Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Passasiers beseer toe vliegtuig-hyser kantel

Minstens vyf mense, onder wie drie passasiers, is beseer toe ’n hys-eenheid waarmee hulle uit ’n vliegtuig gelaai sou word by die Hosea Kutako-lughawe in Windhoek, Namibië, agteroor kantel.

Die toneel Vrydagaand op die Hosea Kutako-lughawe in Windhoek, Namibië. Foto: Verskaf

Die voorval het Vrydag omstreeks 21:20 gebeur.

Air Namibia het by navraag in ’n verklaring gesê ses passasiers op vlug SW708 en twee van sy personeellede was betrokke toe dié bystandtoestel vir passasiers by die lughawe nie behoorlik werk nie.

Met die aankoms van vlug SW728 (Johannesburg na Windhoek) en vlug SW708 (Kaapstad na Windhoek) het die operateur twee passasiers van ’n vorige vlug wat bystand benodig het, sonder probleme op die aanloopbaan gekry. Maar toe hy passasiers van vlug SW708 aflaai, het die eenheid agteroor gekantel.

Die passasiers en personeellede van Air Namibia het agteroor geval en is lig beseer. Die lughawe se brandweerdiens is ontbied en ’n ambulans is uitgestuur. Die beseerdes is na die Lady Pohamba- private hospitaal in Windhoek gebring.

Drie passasiers is ná waarneming ontslaan en nog drie is in die hospitaal opgeneem. Drie personeellede van die lugdiens is tot Woensdag afgeboek.

’n Voorlopige ondersoek dui op ’n breuk in ’n lasplek wat deur die vervaardiger gesweis is.

Volgens Air Namibia word sy toerusting gediens en gereeld in stand gehou ingevolge die vervaardiger se standaarde. Die spesifiek eenheid is in November gediens.

Air Namibia sê hy beskou die voorval in ’n ernstige lig. ’n Span kundiges is aangestel om die oorsaak vas te stel en aanbevelings te maak sodat die lugdiens se skoon veiligheidsrekord behoue kan bly. Die gebruik van die eenheid is opgeskort totdat dit veilig verklaar word vir gebruik.

So lyk dit van naderby. Foto: Verskaf

’n Verklaring oor die voorlopige ondersoek sal binnekort bekend gemaak word. Air Namibia het sy spyt oor die voorval uitgespreek en die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens.

Die Namibiese koerant Republikein berig ’n senior Ugandese kabinetslid en sy vrou was onder die passasiers. Die passasiers was meestal bejaardes, of mense wat ondersteuning nodig gehad het omdat hulle in Kaapstad geopereer is.

’n Man wat saam met sy broer op die vlug was, is deur Netwerk24 op WhatsApp gekontak. Hy sê “die saak raak nou sensitief” en dat nie sy of sy familie se name gepubliseer moet word nie. Volgens Republikein het dié man sy enkel gebreek.

Meer oor:  Namibië  |  Windhoek  |  Lughawe  |  Passasiers  |  Beseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.