Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Passasiers kuier lekker op Jan Tuisbly se karretjie
Jan Tuisbly se karretjie. Die passasierskip MSC Orchestra het Sondagmiddag weens die stormwind nog nie uit Kaapstad se hawe geroer nie. Foto: Malherbe Nienaber

Die suidoostewind wat sedert Vrydag in Kaapstad tier, het veroorsaak dat die MSC Orchestra, wat veronderstel was om Vrydag op sy spesiale Bok Radio-vaart te vertrek, Sondagmiddag nog roerloos in Tafelbaaihawe gelê het.

Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoof van die radiostasie, het Sondagmiddag bevestig dat die passasierskip nog vasgemeer bly.

Op die vraag of hy dink dat die skip met sy 3 200 passasiers nog Sondag sal kan vertrek, het Van der Sandt gesê: “Ek is nie vol vertroue nie. Die Kaapse wind is erg!”

Die skip sou aanvanklik Vrydag na Walvisbaai in Namibië gevaar het, maar dié planne is weens die suidooster van 80 km/h, wat met rukwinde van tot 130 km/h gepaardgaan, gekelder.

Dit het egter nie die passasiers gekeer om die naweek op die skip met talle Afrikaanse kunstenaars saam te kuier nie.

Een van die kunstenaars, Steve Hofmeyr, het Saterdag laataand op sy Facebook-blad geskryf dat die passasiers “gestrand” is.

“Met winde teen 140 km/h gaan die bielie van ’n skip nie deur die noutes van die hawemond kom nie. Een tannie reken op ’n refund. Maar dis net een tannie. Wat van die res van ons?”

Hofmeyr sê dit is waarskynlik sy 11de vaart uit ’n Suid-Afrikaanse hawe, maar hierdie is ’n nuwe ondervinding.

Luidens die inskrywing is daar gewoonlik op dié vaarte uitverkoopte konserte wat “driekwart vol is” en kroeë wat later leegloop terwyl mense “stoksielalleen” dans.

“Sonder seevoete slaan dansers, en sangers, sommer neer op die verhoog, en passasiers, pienk in die kiewe, stamp rond in die gange.”

Die MSC Orchestra moes reeds Vrydag na Namibië vir ’n spesiale Bok Radio-vaart vertrek het. Foto: Malherbe Nienaber

Dié keer is dit egter anders, en Hofmeyr sê sy ervaring op die gestrande skip is dalk sy lekkerste “trippie” nóg.

“Almal wil kuier, niemand is groen nie, fone het ’n vol sein en die konserte bly stampvol. Jy rol nie rond in die bed nie, jy dans soos John Travolta en mors nie ’n druppel tequila nie. Ons uitsig is konstant, maar mooi, met Tafelberg op bakboord en die onstuimige see aan stuurboordkant.”

Ander kunstenaars op die skip sluit in Fatman, Liezel Pieters Page, Juan Boucher, Jan Blohm, Wikus van der Merwe, Jakkie Louw, Arno Jordaan en Snotkop.

Saterdagmiddag was daar nog ’n sprankie hoop dat die skip dalk die hawe sal kan verlaat as die wind teen die aand bedaar. Van der Sandt het toe gemeen dat hulle dalk tussen 22:00 en 02:00 sou kon vertrek.

LEES OOK: Partytjie op vasgekeerde skip gaan aan

LEES OOK: Skip deur stormwind in Kaapstad-hawe vasgekeer

Die skip sou dan net na Lüderitz gevaar het omdat dit teen Dinsdagoggend weer na Kaapstad moes terugkeer.

Van der Sandt het vroeër gesê dat indien die skip eers Sondag die hawe verlaat, sal hulle “na nêrens vaar” en waarskynlik net om Kaappunt ’n draai maak en terugkeer.

Meer oor:  Passasierskip  |  Msc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.