Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pastoor sê hy het nie beweer hy het lyk opgewek nie
Pastoor Alph Lukau staan oor die “dooie man” in die kis.Foto: Twitter/ @AlphLukau

Hoewel dit deur die krag van God moontlik is om dit te doen, het hy nooit beweer dat hy ’n man uit die dood opgewek het nie.

So het die omstrede pastoor Alph Lukau van die Alleluia Ministries International (AMI) in ’n verklaring gereageer nadat ’n video van die “opwekking” op sosiale media versprei is.

Lukau sê op die video word dit duidelik gesê dat daar reeds beweging in die kis was toe die lykswa by die kerk aangekom het.

Dit volg ná Sondag se gebeure by die AMI-kerk in Sandton waar Brighton Moyo, wat ook die naam Elliot Masango gebruik, na bewering uit die dood opgewek is.

In die video kan ’n mens sien hoe Lukau oor Moyo se “lyk”, waar hy in ’n kis lê, staan. As jy mooi kyk, kan jy sien die “lyk” se mond beweeg. Die pastoor beweeg sy hande oor die “lyk” terwyl hy vir die man bid.

Hy druk dan met sy hande teen Moyo se liggaam terwyl hy uitroep: “Word wakker!” Moyo maak dan sy oë oop en sit regop in die kis. Later loop hy selfs tussen die kerkgangers rond.

“Voordat hy vir Elliot gebid het, het pastoor Alph gesê dat hy asemhaal,” lui die kerk se verklaring.

Die “dooie man” is deur sy werkgewer as Brighton Moyo geïdentifiseer. Maar aan die kerk is hy as Elliot bekend.

Lukau sê hy is deur sy familielede as Elliot geïdentifiseer.

Volgens Lukau is die gebeure rondom Elliot se dood deur sy familie aan hom verskaf.

Die kerk en Lukau wil dit duidelik maak dat daar geen interaksie tussen of kontak met Elliot en sy familie voor hul aankoms by die kerk was nie.

“Tydens die diens sê pastoor Alph duidelik dat die omvang van die wonderwerk bevestig moet word en die bevestiging moet onderhoude met Elliot se dokter en almal by die lykshuis insluit,” lui die verklaring.

Die kerk sê hy en Lukau bly onwrikbaar in hul geloof dat mense deur die mag van God nie net genees kan word nie, maar ook vir seker uit die dood opgewek kan word.

Hy sê hulle beplan om vandeesweek stappe te doen teen diegene wat die kerk en Lukau belaster en hul geloof aangeval het en seker sal maak dat hulle die gepaste straf kry.

“Die kerk en Lukau wil dit duidelik maak dat daar geen interaksie tussen of kontak met Elliot en sy familie voor hul aankoms by die kerk was nie. Ons het ook geen kontak met die begrafnisdienste gehad nie, soos wat beweer is.”

Dit volg nadat daar gerugte was dat Moyo die videograaf van die kerk is en dat begrafnisdienste gebruik is.

Drie begrafnisdienste, Kings and Queens Funerals, Black Phoenix en Kingdom Blue, wil nou regstappe teen Lukau doen.

“Ons distansieer ons van die beweerde opwekking van ’n dooie man, wat na bewering in ons lykshuis was, deur die Alleluia Ministries,” sê Kings and Queens Funerals in ’n verklaring.

Kings and Queens sê hy bied net begrafnisdienste, begrafnisdekking, begrafnisse en vervoer aan.

“Ons is deur die beweerde familielede van die oorledene genader en hulle het aan ons gesê dat hulle ’n geskil met ’n ander begrafnisondernemer gehad het en dat hulle van ons vervoerdienste gebruik wil maak. Ons het dit aangebied.”

Pastoor Alph Lukau by sy geel Lamborghini. Foto: FACEBOOK

Kings and Queens sê hulle het nie die kis verskaf nie en het ook nie die lyk in hul lykshuis gehou nie.

Op ’n gesamentlike mediakonferensie van die drie begrafnisdienste Maandag, het adv. Prince Mafu, Kings and Queens se regsverteenwoordiger, gesê die drie begrafnisdienste se dienste is individueel en afsonderlik gebruik. Volgens hom was die begrafnisdienste onbewus van die voorgenome “opwekking uit die dood”.

“Hulle het Kingdom Blue genader om ’n kis te koop. Hulle het plakkers van Black Phoenix gebruik om hul private voertuig te merk.”

Mafu sê daar is aan Kings and Queens gesê hul voertuig sal gebruik word om die lyk na ’n landelike gebied te vervoer.

Hy sê dit is jammer dat die diensverskaffers se reputasie nou as gevolg hiervan skade gely het. “Ons wil die publiek verseker dat ons professioneel en volgens wet optree.”

Volgens Mafu het die begrafnisdienste Maandag ’n bedrogsaak teen Lukau by die Jeppe-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Hy sê geen van die begrafnisdienste het die “oorledene” se “lyk” by hulle gehou nie.

Kapt. Sifiso Mabizela, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak aanhangig gemaak is.

Intussen het die Kommissie vir die Bevordering van Taal-, Kultuur- en Geloofsregte aangedui dat hulle die voorval gaan ondersoek.

Meer oor:  Alph Lukau  |  Opwekking  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.