Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pauw het vrae oor Minnie se ‘slordige polisiewerk’

Die joernalis en skrywer Jacques Pauw kap na die skrywers van die boek Die seuns van Bird Island oor “slordige polisiewerk” en kritieke inligting wat nie in die boek genoem is nie.

Pauw het in sy boek The President’s Keepers nie gehuiwer om die name van verskeie politici en topamptenare te noem nie. Hy het geskryf hulle is korrup en oortree die wet. Ondanks dreigemente oor hofsake en ’n deursoeking van sy huis het geeneen van die betrokkenes hom hof toe gesleep nie.

Jacques Pauw Foto: Argief

In Die seuns van Bird Island beweer die skrywers, Mark Minnie en Chris Steyn, dat Magnus Malan, minister van verdediging in die apartheidstyd, nog twee ministers en ’n sakeman kinders seksueel aangerand het op Birdeiland naby Port Elizabeth.

In ’n omvattende resensie van die boek op News24 bevraagteken Pauw Minnie se optrede en etiek as polisieman wat die saak van die “verlore seuns” ondersoek het. Hy verwys na verskeie voorbeelde in die boek wat twyfel laat ontstaan oor of die bewerings waar is.

Hy vra ook waarom Steyn nie bekend gemaak het dat sy getroud is met ’n lid van die “moorddadige groep weermagmoordenaars”, wat volgens Steyn se eie ontledings betrokke was by die beweerde moord op die minister John Wiley en die sakeman Dave Allen. Albei word geïmpliseer in die kinderseksnetwerk en het hulself jare gelede om die lewe gebring.

Minnie het homself verlede maand om die lewe gebring. Sy lyk is op 13 Augustus op ’n vriend se hoewe in Theescombe, Port Elizabeth, gevind. Hy het ’n skietwond aan die kop gehad en daar was ’n vuurwapen langs sy lyk.

Pauw skryf dat Allen die aand voor sy selfdood uit polisieaanhouding vrygelaat is juis omdat Minnie nie polisieprosedure gevolg het nie.

“As Minnie sy werk gedoen het, sou Allen dalk gelewe het,” skryf Pauw.

“Allen sou daardie oggend in die hof verskyn het. Hy sou moontlik in aanhouding gewees het terwyl hy verhoorafwagtend was en hy sou dalk die ministers se betrokkenheid in sy pedofielnetwerk onthul het.”

Pauw meen dit is onwaar dat staatsaanklaers vir Minnie gesê het om sy ondersoek te staak.

“ ’n Aanklaer kan weier om iemand te vervolg sodra die ondersoek afgehandel is en hy die dossier ontvang het, maar ’n aanklaer kan nie ’n ‘lewende’ dossier sluit nie. Het Minnie dit nie geweet nie? Of lieg hy?”

Dit is ’n tragedie dat Minnie die Birdeiland-ondersoek verbrou het. Die verlore seuns verdien beter, maar nou is daar feitlik geen besonderhede van wat plaasgevind het nie.
Jacques Pauw

Pauw bevraagteken ook Minnie se bewering dat die dossier verwyder is uit die plek waar hy dit in die polisiekantoor gebêre het en waar sy notas oor opnames van die onderhoude met die seuns was. Dié dokumente is gewoonlik apart gehou.

“ ’n Joernalis wat in die 90’s in Port Elizabeth gewerk het, het vir my gesê Minnie het rondom 1997 aangebied het om die Birdeiland-dossier vir sowat R20 000 aan hom te verkoop. Hy sê hy is bereid om ’n beëdigde verklaring daaroor af te lê.

“Hoekom het Minnie 30 jaar gewag voordat hy sy bewerings gepubliseer het? As gevolg daarvan sal geen geregtigheid geskied vir die seuns nie omdat die beweerde pedofiele – met uitsondering van die derde, ongeïdentifiseerde oudminister – almal dood is.”

Barend du Plessis, voormalige minister van finansies, se naam word nie in die boek genoem nie, maar hy het in ’n onderhoud met Rapport vertel hoe die beskrywings in die boek duidelik na hom verwys en dat van kennisse tot wildvreemdes ook die afleiding gemaak het dat hy die derde minister is. Hy het al die beweringe teen hom ontken en daarop aangedring dat die skrywers bewyse gee vir hul aantygings.

In die boek beweer Steyn dat sy die chirurg ontmoet het wat die beseerde kind behandel het wat Minnie glo in die hospitaal gesien het. Die chirurg is volgens Steyn afgetree en is tans ’n wynboer in die Wes-Kaap.

“Hoekom beskerm sy sy identiteit as hy hom byna vir seker skuldig gemaak het aan ten minste professionele wangedrag deur nie die ernstige seksuele aanranding van ’n kind aan te meld nie?

“Dit is ’n tragedie dat Minnie die Birdeiland-ondersoek verbrou het. Die verlore seuns verdien beter, maar nou is daar feitlik geen besonderhede van wat plaasgevind het nie,” skryf Pauw.

  • Lees Pauw se resensie van Die seuns van Bird Island hier.

*Netwerk24 en Tafelberg Uitgewers, wat die boek uitgegee het, is albei deel van Media24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.