Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Van R20 m tot R586 m in 9 jaar
Pensioenfonds se grondaankope laat die oë rek

Die omstrede maatskappy wat twee stukke grond buite Klerksdorp vir R586 miljoen aan die staatsdienspensioenfonds (GEPF) verkoop het, het nege jaar tevore net R20 miljoen daarvoor betaal.

Boonop is sowat 60 ha van die 1 028 ha van die grond aan weerskante van die N12 dolomietgrond en nie geskik vir grootskaalse ontwikkeling nie, verneem Rapport.

’n Gedeelte van die N12 by Stilfontein, net ’n klipgooi van die GEPF se grond, is al vir meer as vier jaar gesluit weens ’n sinkgat.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die GEPF se geld bestuur, het die afgelope week wal gegooi oor die transaksie met Isago@N12 Development deur te sê hulle het al die nodige noulettendheidsondersoeke en onafhanklike waardasies gedoen.

Die GEPF het net 60%-eienaarskap van die grond vir die R586 miljoen wat hulle betaal het. Oudsoldate van Apla en MK het 1% pasella gekry as deel van die transaksie. Die res behoort aan ontwikkelaars verwant aan Isago.

Klag oor transaksie by polisie ingedien.

Deon Botha, woordvoerder van die OBK, sê hul waardasies het in ag geneem dat die grond gebruik gaan word vir groot ontwikkelings. “Ontwikkelingsregte en beskikbaarheid van dienste speel ’n belangrike rol in die waardasie van grond vir ontwikkelingsdoeleindes,” sê Botha.

Die prys van R570 173 per hektaar wat hulle betaal het, was daarom markverwant, sê hy. Tog dui Rapport se inligting op die teendeel:

* Die een stuk grond is reg langs die Matlosana Mall van Redefine Properties wat die eerste fase van die N12-ontwikkelingskorridor was. Dokumente by die aktekantoor wys Isago het dié grond ook besit en in 2011 verkoop teen net R5 084 per hektaar.

* In ’n onverwante 2017-hofsaak oor grond wat onteien moes word vir infrastruktuur vir die Matlosana Mall, het ’n waardeerder die waarde op R150 000 per hektaar bepaal.

* Die GEPF-grond is volgens inskrywings by die aktekantoor steeds landbougrond en nog nie gehersoneer nie, al is die mededingingsreguleerders en die OBK self oënskynlik onder die indruk dat dit reeds gedoen is.

Lightstone, ’n maatskappy wat waardasies op grond van vergelykende verkope doen, se jongste waardasie vir die GEPF se plase is net R2 863 per hektaar as landbougrond.

Om alles te kroon, is ’n hele paar hektaar van die GEPF se nuwe grond nie bruikbaar nie omdat die Matlosana-stadsraad dit sonder vergoeding onteien het in 2017. Paaie en infrastruktuur van Redefine se winkelsentrum is nou daarop gebou.

Luidens die onteieningskennisgewing wat by die aktekantoor geliasseer is, het die stadsraad aangedring op R0-vergoeding vir die onteiening omdat Isago teruggegaan het op hul woord in ’n vorige ooreenkoms.

Gary Lourens, ’n regsverteenwoordiger vir die munisipaliteit, het aan Rapport gesê die munisipaliteit is besig met verskeie hofsake teen Isago waarin hulle altesame R29,5 miljoen eis. Nog eise kan volg.

In een van die eise sê die munisipaliteit Isago moes Eskom R10 miljoen betaal vir kragdienste, maar hulle het nie. Inwoners van Klerksdorp en omgewing moes toe opdok.

Die ander eise hou verband met winsdeling.

Lourens verduidelik dat Isago grond van die munisipaliteit bekom het om dit te ontwikkel. Sodra dit gehersoneer is, kon hulle dit aan derde partye verkoop, maar die munisipaliteit moet 10% van die wins kry.

Volgens Lourens het die munisipaliteit nog nie ’n sent van die winste ontvang wat Isago gemaak het toe hulle onder meer die grond vir die winkelsentrum verkoop het nie.

Die stadsraad staan ook nou bakhand vir 10% van die wins wat Isago gemaak het uit sy transaksie met die GEPF.

Isago se twee direkteure, Doreen Crause en dr. Ramata Khunou, het nie Rapport se oproepe beantwoord nie. Crause het nie haar huistelefoon of selfoon beantwoord nie en nie gereageer op ’n boodskap nie.

Khunou, ’n huisdokter wat in Klerksdorp praktiseer, se selfoon kon nie ’n boodskap vat nie.

Dis nie die eerste keer wat Isago in omstredenheid gehul is nie. In 2017 het kurators wat by die wanfunksionele pensioenfonds vir munisipale raadslede (MCPF) ingegryp het, alarm gemaak oor ’n transaksie met Isago. Dié pensioenfonds het luidens berigte en die kuratorsverslae leë erwe in Klerksdorp by Isago gekoop. Die kurators het die transaksies só verdag beskou dat hulle die Valke laat weet het en ’n hofsaak teen Isago begin het.

Isago het ingestem om R120 miljoen vir daardie pensioenfonds terug te betaal, maar hulle moes eers wag dat die kooptransaksie met die GEPF deurgaan sodat hulle geld kon kry om dit te doen.

Die OBK het aan Rapport gesê hulle was nie bewus van die MCPF-omstredenheid nie. Die koopkontrak tussen die GEPF en Isago is in November 2018 onderteken, terwyl die MCPF al in Julie 2018 verslae gepubliseer het oor die Isago-transaksie.

Solidariteit het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Toegang tot Inligting (Paia) aan die OBK en die GEPF gestuur om agter die kap van die byl te kom oor die aankoop van die grond.

Die DA het parlementêre vrae aan Tito Mboweni, minister van finansies, gevra om duidelikheid oor die transaksie te kry, terwyl die Vryheidsfront Plus in ’n verklaring gesê het die Valke moet dit ondersoek.

Die landbou-organisasie Saai het die afgelope week ook namens een van hul lede, ’n GEPF-pensioentrekker, strafregtelike klagte by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.