Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Petisie wil groep uit SA hou
Behemoth is, van links: Zbigniew Prominski (“Inferno”, tromme), Tomasz Wróblewski (“Orion”, baskitaar), Adam Darski (“Nergal”, hoofsanger) en Patryk Sztyber (“Seth”, kitaar). Foto: David Oosthuizen

Sowat 1 500 Christene het in minder as ’n week ’n petisie aanlyn geteken om te keer dat die Poolse deathmetalgroep Behemoth einde Maart in Suid-Afrika kom optree.

Adam Darski, die hoofsanger van Behemoth, het al in die Poolse hooggeregshof verskyn omdat hy in 2007 ’n Bybel op die verhoog verskeur het.

Hul laaste album, The Satanist, het in 2014 verskyn. Op die ­verhoog noem Darski homself Nergal – ’n doodsgod uit antieke ­Mesopotamië.

Die petisie is ook gemik teen ’n Griekse skok-rockgroep ­Rotting Christ, wat veronderstel is om in Julie hier te kom optree. Dié groep het intussen aangekondig hulle sal weens die petisie hul naam verander vir hul Suid-Afrikaanse konsert.

Chaz Nielsen, die klaer wat die petisie begin het, was self ’n ­metal-musikant. Hy het intussen ’n Christen geword.

“Behemoth is boosaardig,” sê hy. “Die boodskappe en die temas waaroor hulle sing, is suiwer okkultisme.”

Behemoth (genoem na ’n Bybelse ondier in die boek Job) mag weens godsdienstige redes nie meer in die Poolse stad Poznan optree nie en word ook in Rusland verbied.

Behemoth het nie op Rapport se navrae oor die petisie gereageer nie, maar Darski het laat weet: “Kyk maar net na ons video’s op YouTube.”

Hul gewildste video’s (van die liedjies “Blow Your Trumpets Gabriel” en “Conquer All”) is ­goties en donker, maar is elk al meer as 4 miljoen keer gekyk.

“Hierdie wêreld (van death­metal) is gevaarlik en jy kom dit nie agter wanneer jy daarby betrokke raak nie,” sê Nielsen.

“Ek weet, want ek was daar. Dit is altyd lekker om so ’n konsert by te woon. Jy staan en kopskud vir twee of drie liedjies, daar is alkohol betrokke, selfs dwelms. Jy ontspan en sluit jouself af. Dis amper soos joga.

“Maar al die duiwelse simboliek wat gebruik word, het ’n impak op jou, want die boodskappe is meestal onderbewustelik.

“Die Bybel sê ‘Aan hulle vrugte sal julle hulle ken,’ maar ek waarsku mense sommer in goeie Afrikaans: Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou.”

Shaughn Pieterse van Witch­doctor Productions, die organiseerder wat dié groepe Suid-Afrika toe bring, sê die petisie pla hom glad nie.

“Ons leef in ’n demokrasie en ek is nie besig om die wet te oortree nie. Mense is welkom om te kla en ek weet dit kan konsertgangers afskrik. Maar ek is ook bewus van mense wat juis kaartjies gaan koop het omdat dié bohaai hulle nuuskierig gemaak het.”

Witchdoctor het reeds meer kaartjies verkoop as met die vorige Behemoth-konsert. In 2014 was daar 700 mense by die konsert in Johannesburg en 600 in Kaapstad.

Nou mik hulle vir 1 200 kaartjies in Johannesburg en 900 in die Kaap.

Louise Gorman, ’n aanhanger wat in 2014 Behemoth in Kaapstad gaan kyk het, sê onkunde is ’n groter probleem as “sogenaamde Satanisme”.

“Behemoth se musiek is intens en aan die donker kant van die spektrum. Mense wat dit gaan kyk, is bewus daarvan.

“Om hulle te sien optree, is ’n magiese ervaring, want hulle is puik musikante,” sê Gorman.

jaco.nel@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.