Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Peuter (2) nog soek ná nagtelike aanval

’n Uitgebreide soektog word na ’n vermiste tweejarige seuntjie onderneem nadat ’n 30-jarige verdagte die afgelope naweek die kind se ma in Delportshoop in die Noord-Kaap na bewering wou verkrag.

Die man verskyn Dinsdag in die hof.

Die seuntjie se naasbestaandes vermoed reeds die ergste nadat sy klere naby die Vaalrivier gevind is.
Andrew Louw, provinsiale DA-leier

Die DA het intussen ’n beroep op die polisie gedoen om die verdagte te pols om uit te vind waar die seuntjie is.

Die verdagte het na bewering probeer om die kind se ma te verkrag, maar het die seuntjie in sy vlugtog gegryp.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die man verskyn Dinsdag op aanklag van poging tot verkragting in die hof.

“Die man het na die vrou se huis gegaan, vermoedelik om haar te verkrag. Sy het geslaap, waarna hy haar wakker gemaak en gedreig het. ’n Worsteling het tussen hulle ontstaan. Die verdagte het losgeruk en vermoedelik met haar kind weggehardloop.

“Die polisie kon nog nie die kind opspoor nie. Ons het klere in die veld naby die dorp gevind wat vermoedelik aan die kind behoort.”

Andrew Louw, provinsiale DA-leier, sê die polisie en gemeenskap moet alles in hul vermoë doen om die seuntjie op te spoor.

“Die seuntjie se naasbestaandes vermoed reeds die ergste nadat sy klere naby die Vaalrivier gevind is. Die familie eis dat die polisie die verdagte dwing om te sê waar die kind is.

“Ons bid vir sy veilige terugkeer. Ons aktiviste en raadslede help om na die kind te soek. Die voorval dui weer op die onaanvaarbare hoë voorkoms van geweld teenoor vroue en kinders, veral in die Noord-Kaap.”

Louw sê in die laaste drie jaar is 124 526 verkragtingsake oor die land heen aangemeld – sowat 41% van die slagoffers was kinders.

“Altesame 2 600 kinders is vermoor. Dit beteken sowat 46 kinders word daagliks verkrag en twee vermoor. Dié onaanvaarbare vlakke van geweld kan nie meer geduld word nie.”

Meer oor:  Kapt. Olebogeng Tawana  |  Andrew Louw  |  Delportshoop  |  Vermis  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.