Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Peuter ‘daagliks beter’ nadat hart gaan staan

Dit gaan daagliks beter met die Vrystaatse peuter wat wonderbaarlik oorleef het nadat sy hart gaan staan het en hy ophou asemhaal het.

Jeandré Victor (2) het Maandag sy oë geopen nadat hy van verdowing afgehaal is.

Die Bloemfonteiners Jean en Bianca Victor (albei 31) kon Maandag vir die eerste keer ná die voorval op 29 Januarie in hul kleinding se oë kyk.

Jeandré Victor (2) is sedert die gebeure in die Mediclinic Bloemfontein onder verdowing gehou en Maandag daarvan afgehaal.

Netwerk24 het vroeër berig Jeandré het skielik by die Saailand-kleuterskool van die Laerskool Jim Fouché in die stad inmekaar gesak. Sy hart het gaan staan.

Zelna du Preez, ’n onderwyseres by die kleuterskool, het hartmassering toegedien totdat ER24-paramedici op die toneel gekom het. Hy moes nege keer geskok word voordat hulle ’n polsslag gekry het. Sy polsslag het teruggekeer terwyl daar saam met ’n leraar gebid is.

Die oorsaak van die voorval is nog onbekend en daar is nog nie vasgestel of hy enige skade gaan oorhou nie.

Jeandré is steeds in die hospitaal se waakeenheid.

“Hy maak elke dag sy oë meer oop en die pupille begin al hoe meer beweeg, so daar is baie meer reaksie,” sê Bianca.

Jeandré Victor in die Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid.

“Jy wil sommer huil as jy die ogies weer sien,” sê Jean.

Dié ouers sê hulle sien daagliks verandering, veral nadat ’n arbeidsterapeut Woensdag met sy rehabilitasie begin het.

Sy pa sê Jeandré het aanvanklik met sy hande gevou gelê, maar maak nou sy arms reguit en sy hande meer oop ná die terapeut se eerste besoek.

“Ons kan sien hy luister ook wat ons sê, so ek, my man of sy ouma moet by wees as die arbeidsterapeut daar is,” sê Bianca. Sy sê haar seuntjie vaar tot dusver goed met die rehabilitasie, wat in die waakeenheid gedoen word.

Jean sê hy sal na verwagting nog minstens ses weke in die eenheid wees.

“Dit raak nou moeiliker om in die aande huis toe te gaan – hy begin nou huil en ’n mens kan hom nie optel nie. Die traantjies loop maar uit die oë, so hy toon emosie,” sê Jean.

Hy sê die oorsaak was nie ’n bloedklont in Jeandré se hart, soos aanvanklik vermoed is nie. Epilepsie word ook uitgeskakel.

Jeandré Victor se ouers sê dit gaan daagliks beter met hom.

’n Spraakterapeut sal Jeandré besoek om vas te stel of sy spraak aangetas is en hy sal later weer vir ’n MRI-skandering gestuur word.

Die egpaar, wat tydelik by familie in die stad woon, gaan bid elke dag in die kapel by die hospitaal – “net om dankie te sê dat ons kind leef” – en sê die gebeure het hul geloof versterk.

Die gesin woon buite Bloemfontein op die pad na Maselspoort en werk in die vervoerbedryf.

“Ons is self baie positief. Soos ons van die begin af gesê het, die Here loop hierdie pad saam met ons. Dis lekker om te weet dat Hy daar is.

“Dalk gebruik die Here hom om ander mense se oë oop te maak en te wys dat wonderwerke bestaan,” sê Jean.

Hulle bly positief dat Jeandré heeltemal gesond sal wees wanneer hy ontslaan word, maar sal hom nie anders behandel as dit nie die geval is nie. Hulle is net dankbaar dat hy leef.

Jeandré se ouboet, Jacques (9), ’n leerling aan Grey-kollege (primêr), asook die twee vroue wat na hom kyk, Annie en Bessie Ditchabe, mis die kleinding vreeslik, sê sy ma.

Jeandré is ’n groot terggees, wat lief is vir die buitelug, sport en visvang.

Die gesin is al deur diep waters. Jean het in 2018 ’n beroerte gehad terwyl Jacques se linkerlong verlede jaar platgeval het. Albei het ten volle herstel.

Bianca en Jean Victor bly positief dat hul seuntjie Jeandré volkome gesond sal wees wanneer hy ontslaan word, maar sal hom nie anders behandel indien dit nie die geval is nie. Hulle is net dankbaar hy leef. Foto: Mlungisi Louw
Bianca en Jean Victor gesels oor hul seuntjie Jeandré se persoonlikheid. Hulle sê hy is ’n groot terggees wat baie lief vir die buitelug is. Foto: Mlungisi Louw
Jeandre Victor (2) voor die voorval. Foto: Facebook
Die boeties Jeandré (2) en Jacques (9) Victor. Jean, hul pa, sê Jeandré is baie erg oor visvang en het sy eie visstokkie waarmee hy die wêreld vol loop. Foto: Facebook/Jean Bianca Victor


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.