Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Phiyega ‘het besef sy sal nie onskuld kan bewys’
Genl. Riah Phiyega Woensdag tydens die Claassen-kommissie. Foto: Theana Breugem

Genl. Riah Phiyega het geweet sy sou nie haar onskuld kon bewys nie. Daarom het sy waarskynlik besluit om nié voor die Claassen-kommissie van ondersoek oor haar geskiktheid vir haar pos te getuig nie.

Verder het haar regspan daarteen besluit om getuies te roep, want hulle kon niemand opspoor wat in haar guns sou kon getuig nie.

So het adv. Ismail Jamie SC, hoofgetuienisleier, Woensdag in sy slotargumente voor oudregter Neels Claassen, voorsitter van die kommissie, gesê.

Die Claassen-kommissie het verlede maand begin en fokus op die geskorste polisiehoof se gedrag tydens die Marikana-slagting, toe die polisie 34 stakende mynwerkers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet het, asook haar getuienis voor die Farlam-kommissie van ondersoek na dié tragedie.

Jamie het gesê die getuienisleiers meen Phiyega is onbevoeg en nie geskik vir haar pos nie, want sy het onder meer die Farlam-kommissie “probeer mislei”.

“Om die kommissie te probeer mislei, is net so erg as om dit reg te kry om die kommissie te mislei. Iemand in Phiyega se posisie moet hul volle samewerking met so ’n kommissie gee.”

Jamie stem saam met oudregter Ian Farlam se bevinding dat daar “minstens ’n prima facie-saak” teen Phiyega is.

Volgens Jamie dui Phiyega se houding aan dat sy nasionale veiligheid nie as belangrik beskou nie. Die Claassen-kommissie gaan oor meer as net Phiyega se bevoegdheid. Dit gaan ook oor haar nakoming van die Grondwet al dan nie.

Phiyega, in ’n netjiese bruin pakkie geklee, het Jamie uitdrukkingloos aangestaar.

Jamie het gesê indien die Claassen-kommissie bevind Phiyega is onbevoeg, kan dit ernstige gevolge vir haar inhou, omdat dit tot siviele, of selfs strafregtelike stappe teen haar kan lei.

Claassen het hom daaraan herinner dat die verrigtinge van siviele aard is en nie strafregtelik nie.

“Die Farlam-kommissie het nie die mandaat gehad om iemand skuldig te bevind nie, maar die Claassen-kommissie het wel sulke magte,” het Jamie gesê. Hy sou haar graag onder kruisondervraging wou geneem het.

“Dit was haar kans om haar naam skoon te kry. Dit (die Marikana-slagting) hang al sedert 2012 soos ’n wolk oor haar kop. Dié van ons wat apartheid ervaar het, weet hoe pynlik beelde is van die polisie wat op burgers skiet. In ’n demokratiese Suid-Afrika moet daar iets ernstig skeefloop vir die polisie om 34 mense op een dag dood te skiet.”

Jamie se slotargumente duur Donderdag voort.

Farlam-kommissie

Die Farlam-kommissie het bevind die polisie se leierskorps het ’n weergawe van die notule van ’n belangrike vergadering gedokter om dit te laat lyk of die besluit om tot die taktiese opsie oor te gaan, eers die oggend van 16 Augustus 2012 geneem is.

Dít terwyl dié besluit glo eintlik die vorige dag al geneem is.

Farlam het die skuld vir die Marikana-slagting op die polisie se leierkorps en hul swak hantering van die gewelddadige staking gepak en het aanbeveel dat Phiyega se geskiktheid ondersoek moet word.

Daar is wyd bespiegel dat pres. Jacob Zuma die Farlam-verslag wil gebruik om van Phiyega ontslae te raak.


Meer oor:  Riah Phiyega  |  Claassen-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.