Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Phiyega is óf onbevoeg, óf skuldig aan moord'
Genl. Riah Phiyega tydens Woensdag se sitting van die Claassen-kommissie. George Foto: Theana Breugem

As die getuienisleiers in die Claassen-kommissie van ondersoek na die bevoegdheid van genl. Riah Phiyega, geskorste polisiehoof, hul sin kry, sal sy skuldig bevind word aan nalatigheid en dalk van manslag of moord aangekla moet word.

Adv. Ismail Jamie SC, hoofgetuienisleier, het Donderdagoggend tydens sy slotargumente voor oudregter Neels Claassen gesê Phiyega is heeltemal onbevoeg as sy nie geweet het wanneer om die polisie se taktiese operasie tydens die noodlottige Marikana-slagting te staak nie, maar as sy wél geweet het wanneer om dit te staak, kan sy dalk skuldig wees aan manslag of selfs moord.

Verder is die families van die 34 mynwerkers wat tydens die Marikana-tragedie (op 16 Augustus 2012) deur die polisie doodgeskiet is, omgekrap omdat daar onder Phiyega se beheer nog geen polisielid aanspreeklik gehou is vir die dood van hul geliefdes nie.

“Hoe is so iets moontlik?” het adv. Dumisa Ntsebeza SC, van die Socio-Economic Rights Institute of South Africa (Seri), wat namens die families verskyn, gevra.

Hy het ná Jamie aan die beurt gekom met ’n versoek om ’n verklaring van die mynwerkers se families as getuienis voor die kommissie te laat dien.

Claassen sal sy uitspraak oor die versoek na verwagting Donderdagmiddag lewer.

Ntsebeza het ’n kernvraag oor die polisie se optrede tydens die skietery aangespreek: Wie van die oorlede mynwerkers het op die polisie afgestorm en wie was besig om weg te hardloop en is van agter geskiet?

“Die getuienis ondersteun nie die polisie se verduideliking dat hulle uit selfverdediging moes optree nie – byvoorbeeld, een mynwerker is op ’n afstand van twee rugbyvelde in die agterkop geskiet,” sê Ntsebeza.

Dít het onder Phiyega se leierskap gebeur en is bewys van haar onbevoegdheid, sê Ntsebeza.

“Hoewel die polisie se leierskorps miskien nie opdrag gegee het dat die sneller getrek moes word nie, was dit voor die hand liggend daar sou bloedvergieting wees,” het Jamie vroeër gesê.

Jamie het Phiyega telkens oor die kole gehaal omdat sy nie voor die Claassen-kommissie getuig het nie.

Phiyega is skerp gekritiseer deur oudregter Ian Farlam, voorsitter van die kommissie van ondersoek na die Marikana-slagting, omdat sy glo dié kommissie probeer “mislei” het om die polisie se leierskorps se aandeel in die tragedie toe te smeer. Daarom het Farlam aanbeveel pres. Jacob Zuma moet ’n aparte kommissie aanstel om ondersoek in te stel na haar bevoegdheid.

Zuma het egter nié die kwessie van die rol van politieke inmenging in Phiyega en die polisie se leierskorps se besluit om tot die taktiese opsie oor te gaan, by die mandaat van die Claassen-kommissie ingesluit nie.

Volgens Jamie moes Phiyega getuig het sodat sy daaroor uitgevra kon word.

Die verrigtinge duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.