Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pienk vir Yolandi
Wietzue Botes word ondersteun by ’n biddiens vir sy vermoorde vrou Yolandi Botes. Hy hou ’n bos pienk rose vas wat hy Saterdagoggend neergelê het voor haar ouerhuis in Brakpan.Foto: Isabel Venter

’n Groepie mense het Saterdag voor die vermoorde Yolandi Botes se ouerhuis bymekaar gekom om te bid vir geregtigheid. Almal het pienk aangehad as ’n wyse van laaste eerbetoon.

Die 35-jarige Botes is die laaste keer lewend gesien toe sy op 29 April uit George na die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park gevlieg het. Sy sou glo gaan kuier vir haar drie kinders (onderskeidelik 17, 15 en 9 jaar oud) uit ’n vorige verhouding, maar het nooit opgedaag nie.

Nege dae later het die soektog na haar tragies geëindig toe dele van haar liggaam op 4 Mei in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat gevind is.

’n Spesiale gebedsdiens is Saterdag voor haar ouerhuis in Brakpan vir Botes gehou.

Twee groot plakkate, met Botes se foto daarop, is teen die heining vasgemaak. Talle ruikers met pienk blomme het ook teen die heining gestaan. Voor dit was ’n ry kerse wat tydens die diens aangesteek is.

’n Vrou maak ’n bos blomme staan voor die vermoorde Yolandi Botes (35) se ouerhuis in Brakpan. ’n Groepie mense in pienk klere het voor die huis bymekaar gekom en gebid dat geregtigheid sal geskied vir Botes.Foto: Isabel Venter
‘n Spesiale gebedsdiens is Saterdag in Brakpan gehou vir die vermoorde Yolandi Botes. Op die agtergrond is haar ma, Ria van Deventer, met een van Botes se dogters. Foto: Isabel Venter
’n Vrou in pienk klere skryf ’n boodskappie neer ter nagedagtenis van die vermoorde Yolandi Botes (35).Foto: Isabel Venter
Ria van Deventer, Yolandi Botes se ma skryf Saterdagoggend op ’n groot banier ’n boodskap vir haar vermoorde dogter.Foto: Isabel Venter
Ria van Deventer, ma van die vermoorde Yolandi Botes (35) se boodskap aan haar dogter.Foto: Isabel Venter

Op een van die plakkate met die woorde “Justice for Yolandi” het haar ma, Ria van Deventer, geskryf: “Lief jou my kind. Ma sal jou altyd mis. Jy was Ma se ster.” Onderaan het sy drie kruisies gemaak.

Terwyl Van Deventer die boodskap geskryf het, is sy styf omhels deur een van Botes se dogters.

Yolandi Botes (35), wat vermoor is. Dele van haar liggaam is verlede week in die Vaalrivier gevind. Foto: Facebook

Wietzue Botes, Yolandi se man, het met ’n groot bos rose opgedaag en dit stil onder die plakkaat neergesit. Hy het ontroosbaar gehuil en is deur vriende bygestaan.

Hy en die res van die familie was te getraumatiseerd om met die media te praat.

Chanel Herbst, een van Botes se susters, het mense bedank wat hul ondersteuning kom gee het.

“Sonder julle sou ons dit nie kon maak nie,” het sy gesê, terwyl sy teen die trane geveg het.

“Ons glo en vertrou dat ons geregtigheid sal kry,” het sy ter afsluiting gesê.

Mense moet opstaan vir ander. Niemand verdien om so doodgemaak te word nie. Ons moet saam staan as ’n nasie en sê ‘genoeg is nou genoeg’,

Mariska Oosthuizen, nog ’n suster van Botes, het weer ’n beroep gedoen op die publiek om die veldtog Justice for Yolandi te steun.

“Mense moet opstaan vir ander. Niemand verdien om so doodgemaak te word nie. Ons moet saam staan as ’n nasie en sê ‘genoeg is nou genoeg’,” het Oosthuizen gesê.

Sy het ook ’n pleidooi gerig aan die polisie om ’n taakspan op die been te bring wie se enigste taak dit is om die sake van vermiste persone te ondersoek.

“Daar moet vinniger optrede wees, mense wat te lank weg is, word nie sommer weer opgespoor nie,” sê sy.

Meer oor:  Yolandi Botes  |  Moord  |  Eerbetoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.