Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pierneef-skildery: Valke wag op NVG-instruksies

Die Valke, spesialiseenheid van die polisie, wag steeds op instruksies van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor die Pierneef-skildery ter waarde van tussen R6 miljoen en R8 miljoen wat Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, na bewering aan sy lyfwag gegee het.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat nog premier van die Vrystaat was toe die waardevolle Pierneef-skildery van tussen R6 miljoen en R8 miljoen uit sy kantoor verdwyn het. Foto: News24

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke in Johannesburg, het Woensdag aan Netwerk24 gesê die dossier met inligting oor die ondersoek is reeds meer as ’n maand gelede afgesluit en vir ’n beslissing aan die NVG gestuur.

Die NVG moet besluit of vervolging ingestel moet word en of die dossier vir verdere ondersoek na die Valke teruggestuur moet word.

“Daar is géén tydraamwerk waarbinne hulle na ons moet terugkom nie,” het Ramovha gesê.

“As voorbeeld kan die Bosasa-saak genoem word. Dit het langer as nege jaar geneem voordat besluit is om te vervolg,” het hy bygevoeg.

Ramovha sê hy kan nie in dié stadium sê of een, twee of drie mense geïmpliseer word nie. “Ons kan nie inligting oor die saak bekend maak wat die saak in die wiele kan ry nie. Ons kan ook nie name begin noem voordat so ’n persoon of persone in die hof verskyn het nie.”

Netwerk24 het vroeër berig die Zondo-kommissie en verskeie ander spesialisondersoekers het intussen ook die verdwyning van nog skilderye en kosbare erfenis-artikels in die besit van die Vrystaatse provinsiale regering, wetgewer en Vrystaatse munisipaliteite begin ondersoek.

Rassie Erasmus, private speurder, het vroeër aan Netwerk24 gesê baie kunstenaars in die Rosestad het hom genader om die vermeende verdwene skilderye te help ondersoek.

Die sakeman wat hiermee weggery het, het glo noue bande met politici.

Twee mense wat in vrees leef omdat hulle inligting oor skilderye het, het intussen beëdigde verklarings by Volksblad en Netwerk24 ingedien.

Hulle beweer hulle was in Desember 2014 ooggetuies toe vier peperduur skilderye van die Vrystaatse wetgewer na ’n bestemming gebring is waar dit in plastiek verpak moes word en toe met ’n bakkie en sleepwaentjie uit Bloemfontein geneem is.

Die sakeman wat hiermee weggery het, het glo noue bande met politici.

Tiisetso Makhele, premierswoordvoerder, het vroeër gesê die ondersoek by die provinsiale regeringsgebou en die premierskantoor het aan die lig gebring dat net die een Pierneef-skildery uit die premierskantoor vermis geraak het.

Dit is intussen teruggekry en hang weer in die premierskantoor.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Valke, het Woensdag bevestig dat die dossier aan die NVG oorhandig is, maar het gesê geen besluit oor vervolging is tot dusver geneem nie.

Hy het ook gesê daar is geen getuienis dat die Valke vir Magashule oor die saak ondersoek nie, maar hy was die premier van die provinsie toe die skildery verdwyn het. Dit het weggeraak toe hy sy kantoor ontruim het nadat hy premier was.

’n Eertydse lyfwag, Ricardo Mettler, het in die straat voor sy huis in Bloemfontein aan Netwerk 24 gesê dit was net “ ’n eerlike fout”.

Die skildery het tussen Magashule se persoonlike besittings beland toe hy uit die Vrystaatse premierskantoor verhuis het.

Die skildery het tussen Magashule se persoonlike besittings beland toe hy uit die Vrystaatse premierskantoor verhuis het.

“Dit is per abuis aan my gegee.”

Volgens Ramovha handel die saak oor die beweerde diefstal van die skildery, en dat geen ander klag in die dossier is nie.

Hy het gesê hy kan nie sê of mense ondervra is of wie verdagtes is nie.

Netwerk24 het verneem die skildery is ná die tyd aan ’n Bloemfonteinse sakeman gegee, wat dit vir waardering na Strauss & Co., ’n Johannesburgse veilingshuis, geneem het.

Die veilingshuis was bekommerd oor die oorsprong daarvan en het Pierneef-kundiges se hulp gevra om na die oorspronklike eienaar te help soek.

’n Foto van die skildery is in ’n advertensie van Strauss & Co. gebruik. ’n Kunskenner het dit gesien en die amptenare van die Vrystaatse provinsiale regering ingelig dat een van hul skilderye moontlik gesteel is.

Meer oor:  Valke  |  Nvg  |  Pierneef  |  Ace Magashule  |  Skildery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.