Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Piet Botha op private seremonie gegroet

Piet Botha (63) se familie sal ’n private en intieme seremonie hou om sy lewe te vier.

“Ons harte is gebroke. Ons het ’n enigmatiese, wonderlike mens verloor. ’n Liefdevolle pa. ’n Sagte siel. ’n Legendariese musikant,” lui ’n verklaring wat Maandagmiddag deur Botha se familie op Facebook geplaas is.

Piet Botha is Sondagaand op die ouderdom van 63 jaar dood. Foto: Edrea du Toit

Botha is Sondagaand dood nadat pankreaskanker sowat drie maande gelede by hom gediagnoseer is. Die kanker het ook na ander organe versprei.

“Ná ’n kort stryd met kanker berus ons daarin dat sy lyding verby is. Hy leef in die harte van almal wat hom liefgehad het en natuurlik in sy onvergeetlike musiek,” lui die verklaring.

Die verklaring lui verder dat Piet se vriende en familie ’n private seremonie sal hou. “Ons vertrou elkeen wat ’n behoefte daaraan het, sal Piet se lewe op hul eie spesiale manier vier.”

Paul van de Waal, tromspeler van Jack Hammer, die rockgroep waarvan Botha die voorsanger was, het sy innige simpatie met die familie uitgespreek.

“ ’n Vooraanstaande man en vriend is nie meer met ons nie. Ek het nie woorde om sy invloed te beskryf nie. Dankie, Hammer,” skryf De Waal op Facebook.

Botha het ook as “die Hammer” bekend gestaan omdat hy die voorsanger van Jack Hammer was.

Kobus van Rooyen, voormalige toerbestuurder van dié groep, sê die grootste indruk wat Botha op hom gelaat het, is dat dit nooit moeite is om goedhartig te wees nie.

“Piet sou die klere van sy rug af gegee het vir iemand wat dit meer nodig gehad het as hy. In die laaste vyf jaar was Hammer die naaste ding aan ’n pa wat ek gehad het, en as ’n toerbestuurder kon ek nie vir ’n beter mentor gevra het nie.”

Van Rooyen sê Botha het almal met wie hy in aanraking gekom het se lewe verryk.

Die sanger en kitaarspeler Blackie Swart het Botha bedank vir sy mentorskap.

Daar is net een Piet. Nog altyd. ’n Sagte man met ’n harde baard.
Karen Zoid

“Jare gelede, toe ek ’n laaitie was, vol testosteroon en rock ’n roll, het hierdie legende my geleer dat playin’ the Blues, is not about showing off skills, but rather telling the story without words.

Erns Grundling, reisverslaggewer en TV-aanbieder, skryf oor sy herinneringe saam met Botha. Grundling het as jong man saam met Botha getoer.

Jou middernagtrein het vertrek, en ons wat agterbly, wag ook maar op ons eie treine ( . . .) die lewe is baie korter as die dood, maar vir nou wil ek net sê dankie vir al die tunes en jou goeie vibes en wysheid, Bra Piet, ek was nooit in die army nie, maar jy was my enigste Generaal ( . . .) Rus sag.”

Die musikant Bouwer Bosch skryf hoe hy as ’n seun in gr. 7 eenkeer die moed bymekaargeskraap het om homself aan Botha voor te stel.

“Ons kuiertjie was omtrent vyf minute lank, maar soms het ’n mens nie meer as vyf minute nodig om ’n tydlose vingerafdruk op iemand te los nie. Piet was warm, diep, belangstellend en sag. Al het ek hom net vir vyf minute geken, sal ek sy liedjies vir die res van my lewe ken en die mooi ding van liedjies is dat hulle vriende word.”

Karen Zoid, sangeres en TV-aanbieder, het Sondagaand ’n inskrywing op Facebook oor Botha geplaas.

“Daar is net een Piet. Nog altyd. ’n Sagte man met ’n harde baard. ( . . .) Jy was maar altyd net jouself en dit was ’n voorreg om te kon aanskou. Die einde van jou lewe is so ’n groot verlies wat rippel deur ons harte van oral oor die plek.”

Botha was die seun van Pik Botha, destydse minister van buitelandse sake.

’n Dokumentêre rolprent oor Botha se rock & roll-lewe sal later vanjaar uitgereik word.

Hy laat sy drie dogters – Jessica, Robynne en Piya – na en sy sibbe, Roelof Botha, Anna Hertzog en Lien Botha.

Meer oor:  Piet Botha  |  Huldeblyk  |  Celeb  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.