
Piet Botha Foto: Hein Waschefort
Die blues-en-rockmusikant Piet Botha (63), bekend vir liedjies soos “Suitcase Vol Winter”, “Goeienag Generaal” en die meer onlangse “Middernagtrein” is Sondag oorlede.
Die familie was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
Pankreaskanker is sowat drie maande gelede by Botha gediagnoseer en hy was te siek om in Mei na die Strab-musiekfees, ’n jaarlikse rockfees wat in Malongane in Mosambiek gehou word, te gaan. Die kanker het ook na ander organe versprei.
Botha was die seun van Pik Botha, destydse minister van buitelandse sake.
Dié gewilde musikant, wat sy Pretoria-tuiste vir die Strand in die Kaap verruil het, het in April ’n Ghoema ontvang vir die beste rockalbum vir Die Middernagtrein wat in 2018 uitgereik is.
’n Dokumentêre film oor Botha se rock & roll-lewe sal later vanjaar uitgereik word.