Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Piet kuier seker nog by Ricky Louw!

Waar is Piet, die ou wat sy kar opgef*k het?

Dis die vraag wat die 47-jarige Sydney Graham homself steeds afvra nadat ’n selfoonvideo van hom by die wrak van sy Toyota Corolla die afgelope week die internet aan die brand het.

Sydney Graham is lig beseer en nie in hegtenis geneem nie. Foto: Deon Raath

Graham, met sigaret in die hand en taamlik wankelmoedig op bene waarvan die knieë elke nou en dan onverwags knak, staan aanvanklik kop onderstebo by die bestuurderskant en roep: “Piet, are you there?”

Dan loop hy na ’n paar polisiemanne, wat na die ongelukstoneel geroep is, en vra hulle of hulle kan help om die Piet wat sy kar omgegooi het, te soek.

“Nouw I sjit withh all dhis shhit,” sê hy dan mismoedig terwyl hy vier rye spore terugtrap na die wrak toe.

Graham sê al wat hy van die aand onthou, is dat hy ’n bietjie by pêlle gebraai het. “Verder onthou ek niks. Toe ek weer sien, is my kar in sy moer, ek staan naby die Spar in Secunda, ek rook ’n sigaret en ek roep vir Piet. Hoe . . .?”

Ná dié gelag hoop hy hy het nog ’n jop.

Graham sê Piet is seker die ou wat saam met hom en sy vriend Ricky Louw – ’n drinkersnaam vir Richelieu-brandewyn – gekuier het. Maar nou’s Piet skoonveld. Nooit weer gesien nie.

Sydney erken dat hy bleddie gelukkig is dat die polisie hom nie in die tronk gegooi het nie. “Die man wat my kar kom wegsleep het, het darem vir my ’n lift huis toe gegee.”

Sydney sê hy weet ook nie wie die video geneem het nie. Die res van die wêreld dink dalk dis skreeusnaaks, maar hy hoop hy het nog ’n jop ná dié gelag.

“Ek het baie stres met my gesin. Daarom het ek te veel gedrink,” bely hy.

Hy sê hy en sy eksvrou bly nog in dieselfde huis, maar hul drie kinders kom nie goed oor die weg nie en baklei gedurig. Dit ontstel hom vreeslik en dan gaan hy en Ricky maar bietjie uit om te ontspan. Maar wie is Piet? En wat hét van hom geword?

Graham bloos as hy antwoord: “Dis eintlik ek. My pêlle noem my Piet as ek ’n stoutgat is. Ek dink dit was Ricky Louw se skuld dat ek my eie stoutgat- Piet op straat begin roep het.”

Sydney sê dit lyk dalk nie so in die video nie, maar behalwe vir die ongemaklike knak in sy knieë het hy regtig seergekry in die ongeluk. Sy regteroor was amper afgeskeur en hy moes ses steke kry. Hy het ook ’n harde hou op die voorkop weg, sy neus is gebreek en sy regterskouer het ’n fraktuur opgedoen.

“Ek is net regtig dankbaar iemand anders het nie seergekry nie,” sê hy.

Maar sy grootste probleem is sy kar wat Piet namens hom afgeskryf het.

Elke wolk het egter ’n silwer randjie.

“Maandag het al drie my kinders saam daar by my huis opgedaag. Moet mens dan amper doodgaan voordat jou kinders ophou baklei en saam kom kuier?”

Meer oor:  Sydney Graham  |  Dronkenskap  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.