Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pieter-Dirk Uys kry die Hertzogprys

Die satirikus, aktivis en dramaturg Pieter-Dirk Uys (72) is die ontvanger van die Hertzogprys vir drama vir 2018 vir Stukke teater “met inagneming van sy hele oeuvre”, het die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns besluit.

Die prysgeld van R50 000 word geborg deur Rapport.

Pieter-Dirk Uys

Die digter Antjie Krog het verlede jaar se Hertzogprys vir poësie ontvang vir haar bundel Mede-wete.

Stukke teater is ’n versameling van vyf van Uys se dramas – Selle ou storie, Uys se eerste toneelstuk wat in 1974 geskryf en destyds deur die Publikasieraad verbied is; Karnaval, waarvan produksie gestaak is in 1975; Die Van Aardes van Grootoor, waarvan die speelvak insgelyks in 1977 kortgeknip is weens die fel politieke satire daarin; Panorama, wat op Robbeneiland afgespeel het, en Die vleiroos (1992).

Die Akademie het ook in 2012 besluit om die Hertzogprys vir drama toe te ken vir ’n hele oeuvre met die aanwysing van die digter, dramaturg en skrywer Adam Small as wenner.

2015 se wenner van die dramaprys, wat elke drie jaar toegeken word, was Tertius Kapp vir sy dramas Rooiland en Oorsee.

In ’n commendatio met die bekendmaking van vanjaar se Hertzogprys vir drama skryf die Universiteit van die Vrystaat se prof. Hennie van Coller, voorsitter van die Akademie se letterkundekommissie, dat “meer humoristiese, satiriese” werk soos dié van Uys “dikwels ’n laer plek beklee . . . in die rangorde van genres”.

Kritici “is geneig om dit af te maak as blote verstrooiing”, en dié gevaar van geringskatting het by uitstek in Uys se geval gegeld: “Uys self het hierdie beeld van hom versterk deur die skep van ‘tannie Evita Bezuidenhout’, sy televisie-optredes en sy prominensie in die media wat hom bykans ’n kultus­figuur gemaak het,” skryf Van Coller.

“Tog is hy ’n rasegte dramaturg wat met trefsekere karakterisering en sterk dialoog dramas daargestel het wat in eie reg waardevol is.

“Die meerderheid van sy dramas is in Engels geskryf, maar sy sewetal Afrikaanse dramas lewer ’n belangrike bydrae tot wat as protesteater bestempel kan word.

“Pieter-Dirk Uys se dramas fokus op mense in tye van oorgang: aftakeling van mense, verbrokkeling van verhoudings en die vernietiging van drome word geplaas teen ’n agtergrond van politieke opstand en sosiale chaos en die verbrokkeling van ’n politieke regime.

“Uys het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse én Suid-Afrikaanse drama gelewer en die toekenning van die Hertzogprys is erkenning vir sy unieke oeuvre.”

Ander Akademie-wenners wat Vrydag bekend gemaak is, sluit in prof.

Mike Wingfield van die Universiteit van Pretoria wat die M.T. Steyn-medalje vir natuurwetenskaplike en tegnologiese prestasie ontvang, S.J. (Fanie) Naudé wat die Eugène Marais-prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk ontvang vir

Die derde spoel en Marlene van Niekerk wat die C.L. Engelbrecht-prys vir letterkunde ontvang vir haar bundel Kaar.

Meer oor:  Toekennings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.