Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pik Botha: ‘Die ouderdom het my nou gevat . . .’

Die laaste keer toe ek met die 86-jarige oudminister Pik Botha gepraat het, was sowat ’n maand gelede met die dood van die voormalige weermaghoof genl. Jannie Geldenhuys.

Hulle het albei ’n groot rol daarin gespeel om die oorlog in die eertydse Suidwes-Afrika (Namibië) en Angola te beëindig en ek wou die oudminister se kommentaar oor die generaal kry.

Botha het baie stadig en moeilik gepraat.

Oudminister Pik Botha in 2010 in die imposante studeerkamer by sy huis in Akasia in die noorde van Pretoria. Foto: Craig Nieuwenhuizen

In ’n stadium het ek gesê ek kan hoor hy is baie moeg. “Meneer Botha, ek kan hoor u is moeg. U het genoeg gesê wat ek kan gebruik, dankie.”

Maar Botha wóú praat.

“My ou maat, jy weet mos ek sal altyd met jou praat. Dit gaan nie goed met my nie. Die ouderdom het my nou gevat . . .”

Dit was nie meer dieselfde Pik Botha wat ek oor die jare leer ken het nie.

Hy was ook nie meer dieselfde Pik Botha wat my vroeër vanjaar twee keer per dag gebel het om my op hoogte te hou van die toestand van sy rockmusikant-seun Piet Botha wat in Margate van ’n verhoog af geval en sy rug beseer het nie. ’n Mens kon hoor hy was ’n baie bekommerde pa.

My ou maat, jy weet mos ek sal altyd met jou praat. Dit gaan nie goed met my nie. Die ouderdom het my nou gevat . . .
Pik Botha

In ’n stadium, ’n paar jaar gelede, het dit Saterdagmiddae amper ’n instelling geword dat die oudminister my omstreeks 15:00 bel. Dan wou hy politiek gesels en “ ’n bietjie agtergrond gee” oor die gebeure van die afgelope week. Of hy het voorstelle gemaak oor watter kwessies Beeld en sy susterkoerante aandag aan moes gee.

Dié gesprekke was nooit korter as ’n halfuur nie.

Oom Pik (ek hom nogtans altyd as “meneer Botha” aangespreek) was ’n joernalis se droom. Hy was altyd bereid om kommentaar te lewer – veral oor mense wat hy in die verlede op politieke vlak geken het.

’n Hoogtepunt vir my loopbaan was toe ek en ’n fotograafkollega, Craig Nieuwenhuizen, agt jaar gelede na Botha se huis in Akasia in die noorde van Pretoria vir ’n onderhoud is.

Wat ’n uur lange onderhoud sou wees, het die hele oggend geduur. Die oudminister het ons in sy wonderlike studeerkamer met baie boeke agter die huis ingeneem. Daar het hy sy aandenkings gewys en al die dokumente en koerantuitknipsels oor sy loopbaan.

Die langsdienende minister van buitelandse sake in die geskiedenis het onder meer vertel hoe Suid-Afrika by die Wêreldhof in Den Haag gewen het (hy was ’n lid van die Suid-Afrikaanse regspan) en oor die onderhandelinge oor die bosoorlog in Suidwes en Angola.

Hy het ook oor sy jare as Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Verenigde Nasies (VN) in New York gepraat waar hy die onbenydenswaardige taak gehad het om Suid-Afrika se apartheidsbeleid te verdedig. (Ek kan nou nog in my geestesoog sien hoe hy saans op televisienuus ingeklim het onder die land se teenstanders . . .)

In sy studeerkamer het hy veral opgewonde vertel oor sy liefde vir die natuur en vir jag.

Hy het altyd diep filosofies oor die dood gepraat.

Maar nou is Pik Botha weg.

Meer oor:  Sarel Van Der Walt  |  Pik Botha  |  Ouderdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.