Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pik Botha: Hoe kort is menswees, hoe hard die wêreld...

In die herfs van ’n lewe staan ’n mens verskrik in die kortstondigheid van jou menswees. Kulikhuni ezweni – die wêreld is ’n harde plek.

Flitsende taferele. My eerste dag as kadet in die diplomatieke diens, nou reeds 65 jaar gelede. Sneeu in Swede en temperature van minus 28°C. Vele vlugte deur storms reg oor die aardbol met koppies en glase wat tussen sitplekke en in paadjies op en neer rol.

Maar ook die oomblik op 16 Junie 1982 toe ek en my privaatsekretaris Stephan Aldridge naby Upington in Japie van Wyk se eenmotorige vliegtuig ’n noodlanding moes doen tussen doringstruike en klippe. En ’n mens herleef die verwyt in jou gemoed die oomblik as jy besef dat jou privaatsekretaris saam met jou gaan sterf wanneer die vliegtuig die aarde tref. En die verdriet van jou vrou wanneer sy die nuus aan sy vrou moet oordra.

En so ook Lockerbie. ’n Paar dae voor Kersfees 1988 na New York op pad om die Trilaterale Ooreenkoms met Kuba en Angola te onderteken – in soveel opsigte die hoogtepunt van my politieke en diplomatieke lewe, die hoogste bergspits wat ek moes klim.

Ons is bespreek op vlug Pan Am 103, Londen na New York via Frankfurt. Maar ’n past. Martin Geddes bel my privaatsekretaris en vertel van ’n droom waarin ek op ’n vliegtuig reis wat ontplof net nadat dit opgestyg het.

’n Lastige gedagte in die agterkop. Rasioneel sou dit geriefliker wees om direk na Londen te vlieg pleks van Frankfurt waar ons die aansluitingsvlug sou haal van Pan Am 103 uit Londen. Ons kry sitplekke op Pan Am 101 wat net voor Pan Am 103 van Londen af sou vertrek. En so ontsnap ons die Lockerbie-ramp.

Eensaam sterwe elke vlam.

En dan, onverwags, die pyn van die naald in jou rug toe ek op vierjarige ouderdom meningitis gehad het, die pynverdowende warmte van ’n verpleegster wat my kop tussen haar borste vasdruk, die liefde in die oë van ’n vrou.

Ek probeer tegelykertyd vasklou aan en ontsnap van die intensiteit van die ervaring. Herinneringe kan die ekstase nie laat herleef nie, die pyn van dit wat nooit weer ervaar kan word nie, word nie sommer uitgedoof nie. En dan is daar die stem wat waarsku: Jou oortrokke rekening is so groot dat jy dit nooit sal kan terugbetaal nie.

Daar is die nagte saam met vriende in die Soutpansberg. Daar het ons tussen skadu’s weggesweef; daar het ons drome rondgeswerf, by die morêster gaan draai, ongeankerd aan ’n kaai. Daar het ons die helderste sterre gepluk en vir die mooiste nooiens aangespeld. By die Matlabas tjank die jakkals elke nag. Daar het die Suiderkruis die wag gehou oor die uitgedorde wintersgras. Somer, son en maan en wind, vreugde en hartseer het ons saamgebind, altyd wetende: Eensaam sterwe elke vlam in die gloed van ons laaste vriendskapsvuur.

’n Ou vermaning kom weer by my op: “As jy uitgenooi word, gaan sit liewer op die agterste sitplek en wees dankbaar dat jy hoegenaamd uitgenooi was om te bestaan.”

As jou pa ’n ander vrou as jou ma getrou het, dan het jy nie die Trilaterale Ooreenkoms in New York onderteken nie. Dit maak nie saak wat jy is nie. Jy kan ’n prokureur wees of ’n boer of ’n verpleegster of ’n astrofisikus, maar wie is jy? Waarom leef jy, waarom bestaan jy?

As jy nie bestaan het nie, het niks bestaan nie. As jy te sterwe kom, hou die ganse universum op bestaan. Jy dink nie meer nie, jy’s bewus van niks. Die syn het verdwyn.

Tog skram ons weg van dié onverbiddelike waarheid. By die oop graf sien jy hoe naasbestaandes en vriende afskeid neem en weet: Eendag is dit jy van wie hulle afskeid neem. En snags, wanneer jy vir die slaap lê en wag, besef jy aanstons gaan jy slaap sonder die vooruitsig van ’n nuwe môre. Die ek verdwyn terwyl die aarde, sonder jou, aanhou om om sy as te tol.

Ek is maar ’n tydelike verskynsel, maar ek strewe asof ek ’n ewigheid gaan lewe. Ek laat my verlei deur die aanname dat my denke en my besluite deel vorm van ’n nimmereindigende proses. Ek bedrieg myself omdat ek terugdeins van die werklikheid van my eie kortstondige bestaan. Onaangeraak deur die boodskap van die Prediker: Wat nie daar is nie, kan nie getel word nie.

Een Oujaarsnag, lank gelede, het die liedjieskrywer Koos du Plessis by my gekuier. Die twee van ons het weg van die plesierige rumoer teen ’n wildepiesangbos gaan sit en rooiwyn drink.

Ons het besin oor die lewe en die dood. Wie ek is, wat ek is. Hoe dit gaan lyk nadat elke ster uitgedoof is. Genot geput uit die melancholiese opwinding om die onpeilbare te probeer peil. Uiteindelik het ek vir hom gesê: “Koos, jy het dit reg. Jou liedjie slaan die spyker op die kop: Ons is swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind.”

Ek wou nie deel wees van die vaste galaktiese sisteme nie. Nie vir ewig wentel om ’n son wat tog uiteindelik moet uitbrand en vergaan nie. Ek wil verskiet uit die firmament en omgewe met vuur en vlam verdwyn in die tydlose graf van die heelal.

Ek het nie ouer geword nie. Die tyd het net verby gegaan.

Elkeen van ons is bestem om weg te kwyn. Sommige in ’n simfonie van pyn.

By die huis kyk ek na die geelhoute en wonder wat sê die bome vir mekaar. Die onblusbare dankbaarheid in my gemoed verdring die hartseer van afskeid.

So lank as wat ons ten spyte van alles kan bly glo dat iewers agter die sterre daar ’n God is, dan was dit die moeite werd om te lewe en te sterwe.


Hierdie is ’n verkorte en geredigeerde weergawe van Botha se essay in Die braambos bly brand – nie teologiese perspektiewe op Bybelverse (saamgestel deur Pieter Malan en Chris Jones). Dit word gepubliseer deur Naledi Uitgewers.

Meer oor:  Pik Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.