Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pik Botha se skatte opgeveil

’n Besonderse versameling politieke en historiese gedenkwaardighede wat aan wyle Pik Botha behoort het, gaan vroeg in April opgeveil word.

Die persoonlike versameling sluit in meer as 100 lotte se goue munte alleen, asook medaljes, meubelstukke, beeldhouwerke en ’n biblioteek met duisende boeke.

Die lewenspas vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë van nege karaat goud.

Die artikels wat onder die hamer gaan kom, is aandenkings wat Botha oor dekades in die loop van sy loopbaan bymekaar gemaak het en wat nie vir sy kinders van sentimentele waarde is nie, sê Roelof Botha, sy seun. “Ons het besluit om dit van die hand te sit omdat dit meer waarde gaan inhou vir ’n versamelaar.”

Michael Bernardi, afslaer van Bernardi Auctioneers wat die veiling gaan behartig, sê dit is ’n eenmalige veiling van die persoonlike versameling van ’n charismatiese politikus, wat die belangstelling van versamelaars gaan prikkel.

’n Hoogtepunt van die versameling is die tientalle boeke met persoonlike boodskappe aan Botha deur onder andere oudpres. Nelson Mandela, Chester Crocker, dr. Henry Kissinger, David Goldblatt, George Bizos, Harold Serebro en Andrei Urnov.

“Aan Pik Botha, thanks for the many years of kindness, Mandela” het Mandela voor in sy biografie Mandela – The Au­thorised Portrait geskryf.

Die Russiese skrywer Andrei Urnov het voor in sy boek South Africa against Africa (1966-1986), wat in Moskou gepubliseer is, geskryf: “To mr. Pik Botha, our former foe in the spirit of reconcilliation, A. Urnov.”

Bernardi sê ’n artikel wat skaarser as hoendertande is en vinnig opgeraap gaan word, is ’n lewenspas vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë van nege karaat goud. Dan is daar ook ’n Orde van Goeie Hoop-medalje en ’n medalje van die stadsraad van Krugersdorp, wat aan Botha ereburgerskap verleen het.

Onder sy meubels op die veiling tel ’n stel stoele van tambotiehout, ’n kombuiskas van greinhout (Oregon pine) en ’n beeldhouwerk deur André Otto.

Die veiling word op 6 April om 10:00 by Bernardi se perseel in Colbyn in Pretoria gehou. Die artikels kan van 3 April tot voor die veiling besigtig word.

Mandela – The Authorised Portrait, met ’n persoonlike boodskap aan Botha, wat op 6 April onder die hamer gaan kom.

Wyle Pik Botha by van sy sowat 20 000 boeke wat binnekort onder die hamer gaan kom.
Meer oor:  Pik Botha  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.