Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pik: 'Gertjie, ’n boer moet op sy voete kan dink!'

Met die finale vredesonderhandelinge oor Mosambiek wat in die vroeë 1990’s in Rome, Italië, gehou is, was daar ’n groot aantal staatshoofde uit Suider-Afrika om die onderhandelingstafel.

Pik Botha, as Suid-Afrika se minister van buitelandse sake, was die enigste minister. Hy het oudpres. FW de Klerk verteenwoordig.

Gert Grobler, ouddiplomaat, ’n paar jaar gelede saam met oudminister Pik Botha in sy baadjie van Springbokvel.Foto: Verskaf

Gert Grobler, ’n afgetrede senior Suid-Afrikaanse diplomaat en ambassadeur, was deel van Botha se afvaardiging. Hy het Botha se toespraak vir die geleentheid geskryf.

“Suid-Afrika se beurt was laaste. Soos die leiers een na die ander gepraat het, het ek yskoud geword.

“Die een toespraak na die ander was byna dieselfde.

“Toe staan Pik Botha op, hy kyk nie eens na sy geskrewe toespraak nie en val weg met woorde: “Chair, today is pula for Southern Africa and Africa. For the Tshwana people from South Africa and Botswana it means greetings or blessing.

“But pula also means wellbeing, pula means contentment, pula means rain, pula means ample rain, pula means crops, pula means an abundance of crops, pula means daughters, pula means many fertile daughters, pula means lobola ...,” onthou Grobler.

Botha het aan die einde van sy toespraak ’n groot toejuiging ontvang. Selfs pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het Botha se blad kom skud en hom met dié Afrika-metafoor-toespraak geluk gewens.

Terwyl Botha besig was om sy goed op te pak, het Grobler na hom gestap: “Meneer, waar het meneer daardie toespraak gekry?” het hy die minister gevra.

Botha het na Grobler gekyk en geglimlag: “Gertjie, ’n Boer moet op sy voete kan dink!”

Hy was altyd twee tree voor ons almal. Hy kon sien wat kom en het daarvolgens opgetree.
Gert Grobler, ouddiplomaat

Grobler sê met die onderhandelinge wat gelei het tot die uiteindelike vredesooreenkoms, het Botha en die grondwetkenner prof. Marinus Wiechers, wat einde Augustus vanjaar dood is, ’n sleutelrol gespeel.

Botha het Wiechers aan pres. Joaquim Chissano (Frelimo) en Afonso Dhlakama (Renamo) van Mosambiek voorgestel.

Albei van hulle het soveel agting vir Wiechers gehad dat hulle gesê het hulle sal die vredesooreenkoms net onderteken as Wiechers daarmee tevrede is.

Grobler en Wiechers het in opdrag van Botha as deel van pendeldiplomasie by meer as een geleentheid Maputo (Mosambiek) en Nairobi (Kenia) besoek om met die twee leiers te praat.

“Pik Botha was ’n deurwinterde strateeg, diplomaat en onderhandelaar.

“Hy het ’n aanvoeling vir die diplomasie en onderhandelinge soos min ander mense gehad. Hy was altyd twee tree voor ons almal. Hy kon sien wat kom en het daarvolgens opgetree,” sê Grobler.

Hy sê die middag voordat hulle Rome toe vertrek het, het Botha se afvaardiging by die presidensiële gastehuis in Waterloof, Pretoria, byeengekom.

Daar was groot opgewondenheid oor die deurbraak in Mosambiek.

Toe die lede van die afvaardiging vir Botha wag om lughawe toe te vertrek, kom Botha geklee in sy ere-kolonel-uniform van die lugmag daar aan.

“Ons sê toe vir hom ‘jirre minister, ons gaan nie oorlog toe nie, ons gaan ’n vredesverdrag sluit!’.

“Hy het wragtag met die uniform en al op die vliegtuig geklim. Daar was baie passasiers wat hom geamuseerd aangekyk het. Gelukkig het hy die uniform kort daarna uitgetrek en ’n sweetpak aangetrek,” sê Grobler.

“Daar is so baie wonderlike staaltjies oor Pik Botha; ’n mens weet nie waar om te begin en waar om te eindig nie. Hy was formidabel,” sê Grobler.

Meer oor:  Pik Botha  |  Onderhandelinge  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.