Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pik onthou sy ‘goeie ou vriend’ Stephen Hawking

“My hart is vandag baie seer, want my goeie ou vriend is dood,” het oudminister Pik Botha (85) Woensdag gesê oor die afsterwe van die wêreldbekende Britse wetenskaplike prof. Stephen Hawking (76).

Botha en Hawking het gereeld kontak gehad.

“Hy was een van my helde,” sê Botha.

Pik Botha, Stephen Hawking, (agter, links - Pik Botha se vrou Ina en (agter, regs) Stephen Hawking se dogter Lucy. Foto Argief

Die oudminister, wat in ’n stadium die langsdienende minister van buitelandse sake in die wêreld was, sê hy het in 1990 met Hawking se boek A Brief History of Time kennis gemaak.

Botha het later aan Hawking geskryf en vrae aan hom gestel oor dinge wat hom pla.

“Daar was baie dinge wat my gepla het en steeds pla.

“Ek wil weet of die heelal geslote is of nie? Gaan die heelal met ’n knal ineenstort? Sit ons dalk in ’n swart gat? Is ’n swart gat dalk die poort na ’n nuwe uitspansel? Hoe het swaartekrag ontstaan?

“Dit was in die tyd toe my oorlede vrou, Helena, al vyf jaar verlam was en baie gely het. Ek het gehoop hy het raad vir haar.”

Op 12 Desember 1997 het hy die wêreldbekende fisikus die eerste keer ontmoet. Dit was in Cambridge.

“Ek het aan hom ’n miniatuurreplika van ’n olifantbeeld gegee wat Danie de Jager vir Sun City se Lost City gemaak het. Hy (Hawking) het selfs op van my vrae gereageer,”onthou Botha.

Volgens hom het Hawking terwyl hy in 2008 in Suid-Afrika was, ingestem tot ’n eksklusiewe onderhoud met prof. David Block, ’n astronoom van die Universiteit van die Witwatersrand.

My hart is vandag baie seer, want my goeie ou vriend is dood.

“Een van die voorwaardes wat Hawking vir die onderhoud gestel het, was dat ek deel moes wees van die onderhoud en ook vrae moes stel.

“Ek het in die onderhoud gevra of die waarneembare heelal die eerste heelal is?

“Hy het ‘ja’ geantwoord en gesê dit is die enigste een waarvan ons weet en dit het volgens aanduidings 14 miljard jaar gelede spontaan uit ’n oerknal ontstaan,” sê Botha.

“Ek het ook vir hom gevra wat gebeur met die mens se bewussyn wanneer hy of sy sterf?

Dit was prof. Hawking se wens om Madiba te ontmoet.

“Hy het op sy rekenaar geantwoord hy dink dat die mens se bewussyn wanneer hy sterf, is baie soos dié van ’n rekenaar wat afgeskakel word. ‘Ek glo nie in ’n hemel vir rekenaars nie. Ek dink die hiernamaals is ’n feëverhaal vir mense wat bang is vir die donker,’ het Hawking geantwoord.

“Ons het daarna verskeie kere gepraat oor die doel van die menslike bestaan. Hy het gewaarsku dat klimaatsveranderings onomkeerbaar is,” sê Botha.

Botha het gereël dat Hawking tydens sy besoek aan Suid-Afrika oudpres. Nelson Mandela ontmoet. “Dit was prof. Hawking se wens om Madiba te ontmoet.”

Block het ook die ontmoeting bygewoon en aan Mandela verduidelik wat Hawking se werk behels.

Meer oor:  Pik Botha  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.