Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pik se weduwee ‘op herstelpad’ ná nood-breinoperasie

’n Tussentydse kurator is aangestel om na die belange van Ina Botha (67), weduwee van oudminister Pik Botha, om te sien.

Sy is al weke lank in die Eugène Marais-hospitaal waar sy ná ’n nood-breinoperasie in die waakeenheid was en Woensdag oorgeplaas is na ’n saal waar sy rehabilitasie-behandeling gaan kry.

’n Dringende hofaansoek in dié verband is Dinsdag deur Arno Joubert (50), Botha se broerskind, in die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Luidens die hofstukke is Botha se toestand kritiek en iemand moet dringend haar boedel ter waarde van sowat R7,7 miljoen en ander dag-tot-dag-geldsake bestuur.

Ina Botha (67), weduwee van oudminister Pik Botha, sê sy is op die herstelpad en sy soek biltong. Foto: Isabel Venter

“ ’n Nood-kraniotomie is deur ’n spesialis-neurochirurg uitgevoer en dit het duidelik geword dat die pasiënt (Botha) ’n ernstige en lewensbedreigende breinbesering het,” het Joubert in ’n beëdigde verklaring gesê.

Tydens dié operasie is ’n gedeelte van die skedel verwyder sodat die operasie gedoen kan word.

Twee doktersverslae het Botha se toestand bevestig.

Louis Vorster, waarnemende regter, het Dinsdag ’n tydelike kurator aangestel tot tyd en wyl ’n gepaste en permanente kurator vir Botha aangestel kan word.

Dié kurator – adv. Jurgen Potgieter – sal ook tydelik Botha se finansies bestuur en haar rekeninge oorneem, en al haar uitgawes namens haar betaal. Hy sal ook besluite kan neem oor haar gesondheid.

Joubert se regsverteenwoordiger kon Dinsdag nie bereik word vir kommentaar nie.

’n Mens moet jou verstand besig hou.

Die hof het ook gelas dat Potgieter ondersoek instel en verslag doen aan die hof sodat ’n meer gepaste en permanente kurator aangestel kan word.

Die saak is toe onbepaald uitgestel.

Botha het op 22 November in haar nuwe huis in Florauna, Pretoria, van ’n leer afgeval. Kort voor haar ongeluk het sy nog op die kleinhoewe Heatherdale in Akasia gebly waar sy saam met haar man gewoon het.

Sy het Woensdag aan Netwerk24 gesê sy kan nie onthou wat gebeur het nie. Net dat sy baie seergekry het.

Sy het aan die agterkant van haar nek gevat.

Volgens die hofstukke word sy sedert 24 November in die hospitaal behandel.

Vriende het op haar afgekom waar sy bewusteloos langs ’n leer in die badkamer gelê het. Sy het ernstige kopbeserings opgedoen. Daar was onder meer ’n baie diep en lelike sny oor haar kop.

Dit is nog nie seker wat Botha se val veroorsaak het nie.

Sy sê dié operasie het haar ’n bietjie deurmekaar gemaak, en sy voel gefrustreerd omdat sy dingetjies vergeet. Sy is ook nie mal oor haar nuwe borselkop nie.

Al haar hare moes afgeskeer word vir die operasie.

Botha se grootste begeerte is om nou so vinnig moontlik aan te sterk sodat sy hopelik Kersfees weer by die huis kan wees. Sy het ook vir vriende en familie gevra om vir haar ’n pakkie sigarette en Beeld te bring as hulle kom kuier.

“ ’n Mens moet jou verstand besig hou,” het Botha gesê.

Pik Botha, wat 17 jaar lank as minister van buitelandse sake gedien het, is op 12 Oktober 2018 in die ouderdom van 86 dood. Hy en Ina, ’n voormalige joernalis van die SAUK, is in 1993 getroud.

Botha se musikant-seun, Piet, is op 2 Junie vanjaar dood nadat pankreaskanker by hom gediagnoseer is.

Meer oor:  Pik Botha  |  Pretoria  |  Kuratorskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.