Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Pik was ’n versiende kolos, het nie onreg verduur’
Pik Botha

Pik Botha was ’n versiende kolos wat nie onreg verduur het nie.

Só sê dr. Leon Wessels wat Botha se adjunkminister van buitelandse sake geword het toe FW de Klerk in 1989 president geword het.

Dr. Leon WesselsFoto: Argief

Wessels, wat later ’n minister geword en ook ’n sleutelrol gespeel het in die totstandkoming van Suid-Afrika se huidige Grondwet, sê Botha het ’n groot rol gespeel om sy belangstelling in menseregte te verdiep.

“Hy het my ook passievol oor Afrika gemaak.

“Pik Botha was ’n uitsonderlike brugbouer – nasionaal en internasionaal. Hy het probleme meedoënloos aangepak met die oortuiging dat dit opgelos moet word.”

Dr. Dawie de Villiers (78), wat jare lank saam met Botha in die kabinet gedien het, sê Botha se dood is ’n groot verlies.

“Hy was ’n uiters talentvolle mens wat visie en deursettingsvermoë gehad het.

“Ons het ’n lang pad saam gekom. Pik Botha was ’n briljante spreker wat oortuigende toesprake kon lewer – in die parlement en ook in die openbaar,” sê dié legendariese oud-Springbok-rugbykaptein.

“Dit is hartseer dat iemand moet gaan, maar dis maar deel van die lewe. Ek is baie dankbaar teenoor sy vrou, Ina, wat hom die laaste ruk so goed versorg het.”

Dr. Dawie de VilliersFoto: Jaco Marais

De Villiers, wat soos Botha destyds onder die sogenaamde verligtes in die Nasionale Party (NP) getel het, was Botha se voorganger as volksraadslid vir die kiesafdeling Johannesburg-Wes.

Roelf Meyer, ’n ander kollega van Botha wat hom as volksraadslid in dié kiesafdeling opgevolg het, sê hy onthou sy eerste ontmoeting met Botha in 1977 baie goed.

“Dit was nog voordat ek ook politiek toe is. Ek was in verwondering oor hierdie man met sy diep stem en die kundigheid waarmee hy oor die wêreld kon praat.”

Hy het Botha se siening oor die politiek ondersteun, maar was nie deel van Botha se binnekring nie.

“Pik het sy eie manier van doen gehad. Hy was ’n inspirasie vir ons almal oor verandering en die noodsaaklikheid daarvan.

Roelf MeyerFoto: Simone Kley

“Hy het sekerlik ook vyande gemaak oor goed wat hy soms gesê het. Pik was ook nie altyd gewild oor die uitlatings wat hy gemaak het oor wat moet gebeur nie.

“Dit was in die tyd toe die NP twee faksies gehad het, soos wat die ANC ook nou het. Daar was ’n faksie wat koud gestaan het teenoor verandering.

“Pik het die ster-status gehad. Die enigste keer wat hy dit nie kon handhaaf nie, wat toe Eugene Terreblanche en sy AWB-lede ’n NP-vergadering (in die laat 1980’s) op Pietersburg (nou Polokwane) opgebreek het,” onthou Meyer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.