Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pippie lag weer, terg haar boetie

In 2011 het sy die land se harte aangegryp – die tweejarige peuter wat in ’n fratsongeluk by ’n vleisbraaivuur brandwonde opgedoen het toe ’n bottel vuurmaakgel in haar pa, Erwin, se hande ontplof het.

Isabella Kruger, of Pippie (9) soos die klein vegtertjie bekend geraak het, het brandwonde oor 80% van haar lyf opgedoen.

Pippie soos sy ’n paar jaar gelede gelyk het.Foto: Cornel van HEERDen

Pippie moes van voor af leer kruip en staan en kon aanvanklik nie behoorlik haar ledemate beweeg nie.

Danksy haar ma, Anice (33), se volgehoue ondersteuning, 58 operasies, fisioterapie, behandeling en opleiding in Amerika en ’n honderd sessies in ’n suurstoftenk het Pippie merkwaardige vordering gemaak.

“Sy kan nou volsinne praat!” vertel Anice opgewonde.

“Sy konsentreer beter, sy praat beter. Sy eet my uit die huis uit!” sê Anice laggend waar Pippie op haar skoot sit.

“En sy kan lees.”

Vra jy hoe oud sy is, antwoord Pippie uitbundig: “Nine!”

Anice se voltydse werk is om ’n steunpilaar vir Pippie te wees en haar te laat oefen.

Sy pendel weekliks van Lephalale (Ellisras) na Johannesburg vir die suurstofterapie wat Pippie by die Rivonia Mediese Sentrum in Johannesburg ontvang.

Een week bly hulle in Gauteng en die ander in Limpopo.

Voordat die suurstofborrel toegemaak word, klim Anice saam met haar dogter binne-in.
Pippie oefen om te loop terwyl Anice haar regop hou.

Vir die terapie klim Pippie en Anice in ’n silinder.

Charl du Plooy, die tegniese operateur van Oxygenate Medium Hyperbaric Oxygen Therapy, sê binne in die silinder word tot 100% suurstof toegedien, teen ’n verhoogde druk – “dit is gelykstaande aan vier meter onder seevlak”. Du Plooy sê deur die terapie krimp Pippie se rooibloedselle tot helfte die grootte, wat verhoogde suurstofvloei in die bloed regdeur haar liggaam tot gevolg het.

Gedurende die onderhoud glimlag of lag Pippie aanmekaar, maar skielik huil sy.

“Sy mag nie met skoene in die borrel klim nie en sy wil nie haar nuwe skoene uittrek nie,” verduidelik Anice terwyl sy haar dogter paai.

Terwyl hulle in die Goudstad is vir Pippie se terapie, hou pa Erwin die fort by die huis en sien om na Arno (7).

Eergister was haar 120ste sessie. Danksy die terapie het haar motoriese vaardighede en spraakgestremdheid reeds baie verbeter. Fyn aartjies is deesdae vir die eerste keer sedert die ongeluk op haar bene te sien, as gevolg van die verhoogde bloedvloei.

In die afgelope jare het die meisie veloorplantings van haar eie gekloonde vel ontvang, het sy weer leer kruip en alleen leer regop sit. En sy vorder steeds.

In Februarie 2017 het Anice ’n driedagkursus van die Amerikaanse organisasie The Family Hope Centre in Sandton bygewoon. Later die jaar is hulle na die sentrum in Pennsilvanië, waar Pippie deur kenners geëvalueer en Anice geleer is hoe om tuis haar dogter se rehabilitasie te behartig.

Elke dag oefen Anice en Pippie tussen drie en vier uur. Dit behels die ontwikkeling van haar sintuie, leesterapie, haar kruipery en fokus op Pippie se emosies.

Bindweefsel-behandeling bevorder die beweeglikheid van haar gewrigte, wat weens die letsels beïn­vloed is. Daarop fokus hulle baie. “Dis ’n groot ding vir haar om haar arms en bene heeltemal te kan strek,” sê Anice.

Sedert die voorval ly Pippie ook aan posttraumatiese stresversteuring. Anice en Pippie werk met terapie hard daaraan om dit te verbeter.

Ten spyte van die uitdagings wat Pippie al moes oorkom, is sy ’n vriendelike dogtertjie met lewendige oë wat gereeld glimlag.

“Sy is ’n regte grapkas en terg heeldag haar boetie.

“Sy is ’n klein terroris. As Arno verbyloop, sal sy hom probeer skop,” sê Anice.

Op 18 November gaan Pippie deel wees van die Kiddies Chariot van die 947 Cycle Challenge, waar sy en ander gestremde kinders gaan saamry in karretjies.

Anice sê ná die voorval het mense haar gevra wat haar hoop en drome vir Pippie is. “Toe het ek gesê ek wil net saam met haar groei. Ons gaan net aan, daar is nie nou brieke nie,” sê Anice.

Meer oor:  Brandwonde  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.