
Die oudsokkerspeler Marc Batchelor. Foto: Gallo Images
Henke Pistorius, Oscar Pistorius se pa, het Dinsdagoggend gesê dat die familie nie oor die sokkerspeler Marc Batchelor se dood gaan praat nie.
Batchelor, ’n doelskieter wat onder meer vir Orlando Pirates, Kaizer Chiefs en Mamelodi Sundowns gespeel het, is Maandagaand naby sy huis in Johannesburg doodgeskiet.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê Batchelor was omstreeks 18:00 op pad na sy huis in Olivedale naby Fourways, toe twee mense op ’n motorfiets op hom losgebrand het.
“Hulle het hom verskeie kere geskiet. Hy is in sy motor dood,” sê Dlamini.
Oscar Pistorius het jare gelede glo vir sy lewe gevrees nadat hy en Batchelor ’n bloutjie geloop het.
Carl Pistorius, Oscar se broer, het destyds aan ’n gesinstydskrif vertel dat Oscar vir sy lewe gevrees het toe hy vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het.
“Toe hy Reeva doodgeskiet het, het my broer in vrees geleef – ’n vrees wat verband hou met dieselfde mans wat tydens sy vonnisoplegging by die hof opgedaag en my suster in trane gehad het,” het Carl destyds in ’n ope brief geskryf.
Hy sê Oscar en Batchelor was in ’n geskil betrokke ná die mislukte verhouding tussen Oscar en Samantha Taylor. Batchelor was glo ’n hegte vriend van Quinton van der Burgh, met wie Taylor glo vir Oscar verneuk het. Sy het dié beweringe ontken.

Die koeëlgate in die motorruit van Marc Batchelor.
Batchelor was ook vriende met die selferkende moordenaar Mikey Schultz, het Carl in die ope brief geskryf.
Carl het destyds vertel dat Oscar die Johannesburgse eenheid teen georganiseerde misdaad in 2012 genader het nadat hy en Van der Burgh in ’n woordewisseling oor Taylor betrokke was.
Kapt. Paul Ramaloko, wat toe die Valke se woordvoerder was, het gesê dat die situasie uitgeklaar is en Oscar het glo nie ’n klag ingedien nie.
Maar volgens Carl het Oscar egter banger geword nadat ’n kennis gesê het dat Schultz hom sou doodmaak.
Carl het gesê hy weet nie of daar enige gronde vir die waarskuwing was dat Schultz sy broer sou vermoor nie, maar hy weet dat Oscar dit ernstig opgeneem het.
Carl het nie Dinsdag op Netwerk24 se oproepe gereageer nie, maar Henke het wel gesê dat hulle nie kommentaar op Batchelor se dood gaan lewer nie.
Dlamini het Dinsdagoggend aan Netwerk24 gesê dat die polisie ’n beroep op die publiek doen om na vore te kom indien hulle enige inligting oor die moord het. Hy sê enigiemand met inligting kan die Stop Misdaadnommer by 086 001 0111 bel.

Die polisie en forensiese kundiges was laat Maandagaand op die toneel waar die oudsokkerspeler Marc Batchelor doodgeskiet is.