Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plaasaanvalle: Die wond genees, maar die letsel bly

  

Twee dubbelmoorde, twee distrikte, twee weke en een provinsie. ’n Individu wat trauma ervaar, klop aan die deur van ’n berader, maar hoe genees ’n gemeenskap? Cheréne Pienaar praat met slagoffers en kenners om by die antwoord uit te kom.

'n Tipiese Suid-Vrystaatse plaastoneel. Twee boeregemeenskappe is in rou na twee dubbelmoorde – by Vanstadensrus en Dewetsdorp. Dié wonde heel moeilik en bedreig die vrede en stabiliteit van landelike gebiede. Foto: Charles smith

Soos ’n kind wat mishandel is en nie daaroor kan praat nie heers daar ’n stilswye in die stofstrate van Vanstadensrus en Dewetsdorp. Die stille trauma van plaasmoorde en -aanvalle is besig om klein, landelike gemeenskappe te verlam.

Choppie en Marian Bruwer van Vanstadensrus is verlede week vermoor. Foto: Verskaf

Choppie Bruwer en sy vrou, Marian, is sinloos-wreed in hul plaashuis vermoor, en twee weke vroeër het ’n kennis twee nuwelingboere van Dewetsdorp op hul plaas doodgeslaan in ’n argument oor weiding.

“Moord bly moord, roof bly roof,” sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), oor dié twee voorvalle wat die mense in die provinsie tot in hul diepste wese geskok het.

Dit is ’n gegewe dat die ergste vorm van trauma ter sprake is waar geliefdes aan die dood afgestaan word, maar so ’n aanval het ’n verreikende rimpeleffek op ’n gemeenskap, sê sy.

“Die impak van plaasaanvalle en -moorde het juis tot gevolg dat oorlewendes in verskeie gevalle verhuis na dorpe of stede, dat plase in die mark kom, dat produksie gestaak word, dat werkers hul werk verloor.

“Dit het ’n regstreekse impak op voedselproduksie, die volhoubaarheid van die landbou en die ekonomie.

“Die genesing van ’n gemeenskap is ’n lang proses.”

Die Bruwer-woning staan leeg en verlate. Choppie (78) en Marian Bruwer (68) se moordenaars sal eersdaags in die landdroshof op Wepener op aanklagte van moord, huisbraak en diefstal, die diefstal van ’n voertuig en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie verskyn.Foto: Verskaf

’n Tyd om te rou

’n Mens moet waak daarteen om nie te gou te wil veg nie, sê Janie Loubser, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad wat spesialiseer in traumabehandeling.

“Daar is ’n tyd om net hartseer te wees en liefde te ontvang.

“ ’n Gemeenskap kan genesing bring as die liefde in hierdie gemeenskap eg en veilig is sodat die vrees in toom gehou kan word.

“En daarna moet stappe gedoen word om oplossings te vind. Later in die proses is bemagtiging nodig.”

Maar genees ’n gemeenskap ooit ten volle?

Philip Henning, ’n boer van Trompsburg, het tien jaar gelede ’n plaasaanval oorleef toe vyf mans hom oorval en in sy linkerskouer geskiet het. Die mans het een van sy werkers met ’n pyp doodgeslaan.

Sy vrou is tans in ’n tehuis met Alzheimer se siekte. Philip sê sy het nooit herstel van die skok van daardie oggend – 17 November 2007 – nie.

Iets in die siel breek

“Ja, dit is ’n taai storie om oor te praat. Ek weet nie of ek raad het nie,” sê hy in ’n telefoongesprek uit sy plaashuis buite Trompsburg, waar hy steeds op 75 alleen woon.

Elke keer as hy hoor van ’n plaasmoord, is daar ’n woede wat in hom opstoot.

“Jy voel tot in jou siel in afgebreek.

“Wat in my geval so besonders was, was die plaaswerkers en ander swart mense van die gemeenskap, wat vyf dae ná die aanval, toe die verdagtes om borgtog aansoek doen, voor die hof getoi-toi het teen die toestaan van borgtog.”

Hy glo hy leef nog vandag omdat hy in die aanval beskerm is.

“Ek het soveel genade beleef, die mense gaan dink ek jok.

Die feit dat die swart mense my so in dié tyd besoek het, het my hoop gegee.”

Berading was nie vir hom die antwoord nie.

“Toe ek kamtig berading moet kry, is daar aan my gesê dat hulle vir my niks kan doen as ek nie kan vergewe nie. Nou dís ’n tall order.

“Ag, ek was so een keer by ’n predikant, en dit het wel ’n bietjie gehelp.”

Maar Philip het hom later self in die beraderstoel bevind.

“Die plaaswerkers was so geskok. Ek het hulle self probeer beraad, hulle laat verstaan dat die aksie nie teen húlle was nie.”

Een van Philip se werkers is voor sy vrou en kinders met ’n pyp doodgeslaan omdat hy nie die aanvallers wou inlig hoe om toegang tot die Hennings se woning te kry nie.

“Die mense bewonder my dat ek steeds op 75 stoksielalleen op die plaas woon. Dalk is dit iets in daai bewondering wat my help om aan te gaan.”

Hy weier om in vrees te leef.

“Nou die aand hoor ek ’n geluid, vir ’n oomblik was ek in skok, en toe is dit my hond wat my been kom lek. Ek het die voordeur oop vergeet.”

Hy glo jy gaan jouself in die voet skiet as jy toelaat dat emosies jou insluk.

“Die wond mag genees, maar die letsel bly.”

Jasper Coetzee, Marian Bruwer se seun, hoop iets goeds kan uit die moord op sy ma en stiefpa vloei.

“Iets positiefs, wat almal van alle rasse en kleure gaan saambring en laat saamstaan om dié tipe gemors te stop.”

  • Om die statistieke van plaasmoorde in die Vrystaat te bepaal, sluit die polisie en VL aanvalle en moorde op kommersiële, opkomende en bestaansboere in. Daar is twee uitsluitsels: huishoudelike geweld en waar alkoholmisbruik betrokke is.
Meer oor:  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.