Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plaaswerkers se kinders hou ná 30 jaar reünie

Emosies het Maandag hoog geloop toe drie geslagte wat op die Lourensford-wynplaas in Somerset-Wes gewerk en grootgeword het, ná meer as 30 jaar herenig is.

Edward Jantjies, woordvoerder van die groep, sê minstens 250 mense het die reünie op Versoeningsdag bygewoon.

Minstens 250 mense het Maandag ’n reünie op die Lourensford-wynplaas in Somerset-Wes bygewoon. Baie van hulle het op die plaas grootgeword.

“Ons het soos een groot familie op die plaas grootgeword. Ons het mekaar meer as 30 jaar gelede laas gesien,” het Jantjies aan Netwerk24 gesê.

Hy sê toe die plaas van eienaar verander het, het talle werkers en hul gesinne na onder meer die Strand en Macassar getrek.

Jantjies sê hy het in 1970 as tweejarige saam met sy gesin na die plaas gekom. Hy is in 1985 saam met sy ma weg nadat sy pa aan ’n hartaanval dood is.

Ander mense het langer op die plaas gebly, sê hy.

Hulle het ’n 45 minuut lange trekkerrit tussen die huise waarin hulle vroeër jare gewoon het, meegemaak.

Jantjies en die ander kinders het by nabygeleë skole skoolgegaan.

Hy onthou nou nog al die dinge wat hulle as kinders gedoen het: “Ons het tol gekap, ‘Wolf, Wolf, hoe laat is dit?’ gespeel. Ons het draadkarre gemaak en baie vrugte gesteel. Ons het ook baie konserte gehou en prysuitdelings gehad.”

Jantjies sê Sheralene van Wyngaard, ’n ander oudinwoner, het die idee vir ’n reünie gehad. Sy is egter intussen aan kanker dood.

Hulle het die reünie tot eer van haar en ander wat reeds dood is, gehou.

Die groep het Maandag ­onder meer pretritte gehad, gedans en geëet.

Volgens hom het baie van die mense tranerig geword toe hulle op ’n 45 minuut lange rit op ’n trekker tussen die huise deur geneem is.

Die jongspan wat die reünie saam met hul ouers en grootouers bygewoon het, het hul eie vermaak gehad.

Jantjies sê hul komitee onder leiding van Audey Matthys, die voorsitter, het die reünie binne twee maande gereël.

Hulle het geld gekry van Lourensford se huidige eienaars, sowel as van ander borge. Die groep het ook kaartjies vir die dag verkoop om nog geld in te samel.

“Die huidige eienaars van die plaas het regtig agteroor gebuig om van die dag ’n sukses te maak,” sê hy.

Meer oor:  Kinders  |  Somerset-Wes  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.