Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plakkers verwoes en stroop plaas

’n Spogplaas in die vrugbare Hexriviervallei is verwoes tien jaar nadat ’n vooraanstaande druiweboer dit as ’n swart ekonomiese bemagtigingsprojek vir sy werkers aangekoop het.

Die uitsig vanuit Alpha se pakhuis op die gestroopte wingerde van die eens prag-druiweplaas in die Hexrivier-vallei wat oor tien dae opgeveil word. Foto: Edrea du Toit

Die plaas Alpha van 12 ha ’n ent buite De Doorns word oor tien dae op die internet opgeveil om R800 000 in te samel wat die eienaar, die Denau-werknemerstrust, aan Absa skuld.

Die plaas was prima eiendom toe dit in 2010 deur Pieter Naudé, voorsitter van die Denau-boerdery minder as 1 km daarvandaan, aangekoop is as ’n bemagtigingsprojek vir sy 250 werknemers. Die plaas het die vermoë om tussen 30 000 en 40 000 kissies tafeldruiwe van uitvoergehalte per jaar te lewer.

Naudé en sy bure wil dieselfde plaas nou weer koop.

Alpha is aangekoop as ’n SEB-projek.

Maar vandag is groot stukke van die gevestigde, produserende wingerde afgesaag vir vuurmaakhout deur plakkers wat hulle op grond reg langs Alpha se grensdraad kom tuismaak het. Daar is glad nie meer ’n heining tussen Alpha en die plakkerkamp nie.

Wingerd wat nie afgesaag is nie, is die afgelope seisoen nie besproei nie en sukkel om te oorleef.

“Wingerd herstel nie wanneer die plante só seergekry het nie. Alles sal waarskynlik uitgehaal en oorgeplant moet word,” sê Tommie Wessels, wat vroeër vir Denau gewerk het en sedert 2016 operasionele bestuurder op Alpha was.

Tommy Wessels, voormalige plaasbestuurder van Alpha, by die verskroeide wingerd wat ’n jaar gelede nog tot 40 000 kissies tafeldruiwe van uitvoergehalte gelewer het. Alles sal waarskynlik uitgehaal moet word, sê hy. Foto: Edrea de Toit

Dié vallei kry feitlik geen reën in die somer nie en al die plase is van besproeiing uit die Hexrivier afhanklik.

Die werkerstrust het 118 lede gehad toe dit gelikwideer is. “Ons het heelwat hulp van die regering gekry waarmee ons voertuie aangekoop het. Ons het ook elke jaar dividende gekry, maar verlede jaar het die geld opgeraak. Ons kon nie Eskom betaal nie en hulle het die krag afgesny. Sedertdien kan ons nie besproei nie,” sê Wessels.

Hy woon steeds in een van die twee dubbelverdiepinghuise op die plaas. Hy trek einde Januarie na ’n ander plaas waar hy werk gekry het. En hy weet: sodra hy trek, word dié huis ook gestroop.

Die tweede huis is tot vroeg in die tweede helfte van die jaar bewoon deur Abie Pietersen, wat die hoofbestuurder was. Maar toe Pietersen trek weens die likwidasie, is die huis onmiddellik gestroop van matte, ligte en ander toebehore.

Die hoofhuis staan leeg en verniel.

Twee veiligheidswagte woon in een van die kamers. Hulle is deur die likwidateurs aangestel om die plakkers in toom te probeer hou.

“Ons het reeds twee keer veilings probeer hou om die plaas te verkoop, maar mense is aangeval wat die grond wou kom besigtig. Daarom word die veiling dié keer oor twee dae aanlyn gehou,” sê die eiendomsagent, Nikolai Mynhardt.

Die buitegeboue bestaan uit ’n ruim sorteer- en verpakkingsaanleg, maar die toerusting waarmee druiwe gewas en verpak word, is weg. Daar is ook vyf werkershuisies, ’n pakkamer en ’n leë sementdam wat met ’n moderne pompstasie toegerus is. Volgens die titelakte het die plaas ruim waterregte uit die Hexrivier.

Volgens Wessels is die plakkers grootliks die rede waarom die projek misluk het, maar Naudé sê hy en enkele ander boere wil weer die plaas terugkoop, want anders gaan die plakkers ook dié grond oorneem. Hy en sy drie seuns voer jaarliks 850 000 kissies tafeldruiwe uit die vallei na lande in die Europese Unie uit.

Naudé het Alpha aangekoop as ’n bemagtigingsprojek vir die sowat 250 werkers van Denau. ’n Werknemerstrust is gestig en die plaas is in die naam van die trust geregistreer.

“Vir die eerste vyf jaar het ons steeds die boeke gedoen. Pietersen het vroeër vir ons gewerk en is opgelei as ’n bestuurder,” vertel Naudé.

In die eerste twee jaar het die Wes-Kaapse provinsiale regering al die insetkoste van sowat R1 miljoen per jaar gedra. Die trust het ’n bakkie en ’n trekker aangekoop. Die ingewikkelde bemarkingstelsel vir vrugte-uitvoer was egter ’n probleem. Die trust het ook geen reserwes opgebou nie en waarskynlik te veel geld aan dividende uitbetaal.

Maar mettertyd wou Pietersen en die trust al hoe minder met die Naudés te doen hê en op hul eie bene staan.

“In 2018 het Pietersen ’n maatskappy, Alpha Shalom-boerdery, gestig. Hy en sy drie mededirekteure, wat nie lede van die trust was nie, het beplan om die plaas met ander ondernemings te konsolideer,” sê Wessels.

Maar ’n lening van Absa kon nie afbetaal word nie.

Naudé het professionele konsultante gehuur en planne opgestel om die plakkerkamp as ’n woonbuurt te ontwikkel.

“As ons Alpha koop, sal ons egter dadelik die heining tussen die plaas en die plakkerkamp moet vervang,” sê hy.

Rapport kon Pietersen nie bereik om kommentaar te vra nie.

Meer oor:  De Doorns  |  Wingerde  |  Seb  |  Plakkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.