Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plan om staatsdiens te snoei werk nie

Die minister van finansies, Tito Mboweni, se plan om die staatsdiens te verklein deur staatsamptenare aan te moedig om vroeër af te tree, het misluk.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: DAIILY SUN

Mboweni se mikpunt was dat 30 000 staatsamptenare sou aansoek doen om met vervroegde pensioen te gaan sonder verlies van enige voordele.

Staatsamptenare kan van 55 af aftree, maar gewoonlik word hulle ontmoedig deur 0,33% per maand van hul gratifikasie en pensioenvoordele af te trek.

Met Mboweni se aanbod het die penalisering weggeval.

Staatsdienswerkers wat tussen 55 en 60 jaar oud is, kon tot 30 September aansoek doen. Syfers wat Rapport bekom het, wys dat daar in drie van die land se grootste provinsies minder as 3 000 amptenare aansoek gedoen het.

In KwaZulu-Natal was daar net 1 452 aansoekers, in Gauteng 904 en in die Wes-Kaap 525 – ’n totaal van 2 881.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê hy het in gesprekke met verskeie onderwysgroepe besef onderwysers het nie ooghare gehad vir die voorstelle nie. Onderwysvakbonde het ook hul lede afgeraai om vroeg af te tree.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) het gesê die intellektuele kapitaal van die onderwyssektor kan “uitgewis” word as nog ervare onderwysers sou loop. Naptosa bestempel dit as ’n “resep vir armoede” en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het gesê dit is nie tot voordeel van die onderwysers nie.

Onderwysvakbonde het gevrees dat tot 7 000 onderwysers vir die pakkette sou aansoek doen. In KZN het die grootste gros van die bykans 1 500 aansoekers wel uit die onderwysdepartement gekom. Dit is egter nie bekend hoeveel van die 1 093 aansoekers uit dié departement onderwysers is en hoeveel amptenare is nie. In die Wes-Kaap het 283 onderwysers aansoek gedoen, maar dié provinsie gaan nie een van die aansoeke goedkeur nie omdat die provinsie nie kan bekostig om onderwysers te verloor nie, het ’n hooggeplaaste bron gesê.

Roodt sê in sy inligtingsessies was dit veral departements- en skoolhoofde wat belangstelling getoon het. “Dis senior mense, nie die tipe van wie die minister ontslae wil raak nie.”

Hy sê in baie gevalle was dit onderwysers wat die staatsdiens wou verlaat om eerder in die private sektor as onderwysers te werk – ’n aanduiding dat dit waarskynlik van die beter onderwysers was.

Mboweni het in sy begrotingsrede in Februarie stappe aangekondig om die salarisrekening van die staat oor drie jaar met R27 miljard te sny. Tans werk daar 1,23 miljoen mense vir die staat. Sou 30 000 die aanbod aanvaar het, sou dit in 2019-’20 ’n besparing van R4,8 miljard teweeg gebring het en teen 2022 sou die besparing R8 miljard beloop het.

Die minister het in Oktober verlede jaar al gewaarsku oor salarisooreenkomste wat beduidend bo inflasie was. Die tesourie het Vrydag gesê die kwessie gaan einde Oktober in die mediumter- mynbegrotingsraamwerk bespreek word.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.