Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plan vir poue by hospitaal gou bekend

’n Nuwe tuiste wink dalk binnekort vir die poue van die Life St. George-hospitaal in Port Elizabeth.

Die kleurvolle voëls het die afgelope paar maande opslae gemaak nadat ’n inwoner glo betrap is waar hy ’n pou met ’n graaf doodslaan en nog ’n karkas daarna in dieselfde buurt aangetref is.

Twee van die poue by die Life St.George-hospitaal in Port Elizabeth waar hulle tussen besoekers rondloop. Foto: Argief

Planne deur die hospitaal om die voëls, wat jare lange inwoners van die hospitaalperseel is, te verwyder, is ook nie goed deur die gemeenskap ontvang nie.

Die afgelope week het hospitaalbestuur en Arnold Slabbert van Wildline, ’n stedelike kleinwildbewaringsgroep, vergader om die beste moontlike toekoms vir die poue te bespreek.

Riaan Croucamp, streekbestuurder van die hospitaalgroep, sê Slabbert stel ’n voorlegging saam.

“Ons wil ’n oplossing vind wat in die beste belang van die poue is. Ons sal die plan bekend maak sodra ons daartoe ingestem en dit gefinaliseer is,” sê Croucamp.

Slabbert het ná die vergadering erken daar is te veel poue op die hospitaal se beperkte perseel en dat die getalle uitgedun sal moet word. ’n Oorbevolking kan probleme met higiëne veroorsaak, asook stres vir die poue weens die konstante mededinging vir die beskikbare ruimte, sê Slabbert.

Die beskikbaarheid van kos, goeie beskutting en die afwesigheid van roofdiere by die hospitaal skep volgens hom die ideale omstandighede waaronder die poue se getalle jaarliks toeneem.

“Daar is eenvoudig nie genoeg natuurlike vyande vir die poue nie. In die natuur sal ’n pou gelukkig wees om een van die kuikens groot te maak. By die hospitaal maak hulle tussen drie en vier kuikens groot,” sê Slabbert.

Die voorstel, wat Slabbert hoop om oor ’n week te kan indien, sal behels dat die hospitaal self die poue se getalle beheer.

“Daar is tussen 30 en 40 poue. Die poue sal op ’n veilige manier gevang en in ’n boma geplaas word. Ek dink ’n maksimum van tien poue sal by die hospitaal gelos word en in die toekoms verder beheer word.”

Indien dié plan goedgekeur word, sal die hervestiging eers ná die warm somermaande en die broeiseisoen plaasvind.

Geskikte liggings word ook nog gesoek, maar Slabbert sê die poue moet verkieslik iewers gehuisves word waar hulle kan vryloop.

Meer oor:  Hospitaal  |  Planne  |  Voëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.