Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Planne vir Kaap se ‘Lanseria’ nog in vroeë stadium

Die eienaars van die Kaapse Wynlande-lughawe sê hulle beplan om “Kaapstad se Lanseria-lughawe” te bou en is tans in ’n vroeë stadium van die projek.

Dit sal op die terrein van die Fisantekraal-vliegveld naby Durbanville gebou word, met moderne geriewe om ligte vliegtuie en later kommersiële vliegtuie te ontvang.

Mark Wilkinson,projekkoördineerder, het Vrydag by navraag gesê kenners word tans genader om na die omvang en haalbaarheid van die projek te kyk.

“Lanseria het dekades geneem om te kom tot waar dit vandag is, maar op dieselfde manier wat Lanseria begin het, wil ons eerstens die lugvaartmark in die algemeen lok en hoop om nuwe vliegtuigskure te bou en ’n beeldskoon klubhuis met uitsigte oor die berge later vanjaar.”

Hy het bevestig dat die vliegveld in November 2020 oorgekoop en hernoem is.

“Ons voel die naam is perfek, want ons wil hê mense moet voel hul vakansie begin wanneer hulle by die Kaapse Wynlande-lughawe aankom, asof hulle op ’n wynplaas is.

Die vliegveld word sedert 1943 al gebruik en het die nodige sonering en goedkeurings om as lughawe te dien, volgens Wilkinson.

Die bestaande gebou sal vervang word en die aanloopbane, wat in verskeie rigtings wys, sal behou word.

Ons voel die naam is perfek, want ons wil hê mense moet voel hul vakansie begin wanneer hulle by die Kaapse Wynlande-lughawe aankom, asof hulle op ’n wynplaas is.

Wilkinson sê die ligging is “baie prakties” vir mense wat van die noordelike voorstede af reis en dit is nie ongewoon om twee lughawens in ’n ontwikkelde stad te hê nie. “Dit sal tot groot maatskaplike en ekonomiese voordeel vir Kaapstad en omliggende dele wees.”

Hy voer aan dat die lughawe ’n goeie grondslag kan bied vir klein en mediumgrootte operateurs in die toerismebedryf of die private huurvlugbedryf wat nie met groot stralers wil meeding nie.

“Dis perfek vir die klein ouens gegewe die veiligheid van ons aanloopbane en hoe naby ons aan die algemene lugruimte vir vlugte is.”

Rob Hersov, sakeman en mede-eienaar van die lughawe, het in ’n onderhoud met BizNews Radio gesê hy en sy vriend Nick Ferguson het die vliegveld gekoop en wil “die Lanseria-lughawe van Kaapstad bou”.

“Toe ek vier jaar gelede na die land teruggekeer het, het ek aan my vrou gesê ek gaan nie belê in enige onderneming wat koste in Suid-Afrika het en nie inkomste uit die buiteland nie. Toe gaan ek en breek my eie reëls.”

Hersov sê die lughawe is sowat 35 tot 40 minute se ry van die suidelike voorstede af.

“Dit is in 1943 deur die Britte gebou. Dit het vier wonderlike aanloopbane en ons besit dit. So, ek is in die lughawe-besigheid nou,” lui die onderhoud.

Hersov is die voorsitter en stigter van Invest Africa en African Capital Investments, onder meer. Sy oupa, Bob, was ’n stigter van die myngroep AngloVaal en sy pa, Basil, het dit later ook bestuur.

Toe ek vier jaar gelede na die land teruggekeer het, het ek aan my vrou gesê ek gaan nie belê in enige onderneming wat koste in Suid-Afrika het en nie inkomste uit die buiteland nie. Toe gaan ek en breek my eie reëls.

Luidens die lughawe se webwerf is die vliegveld destyds deur die Suid-Afrikaanse lugmag gebruik en later in private besit oorgeneem.

Van die vier aanloopbane word twee tans vir vlugte gebruik en twee vir die verfilming van rolprente en televisie-reekse.

Die lughawe is op ’n perseel van 150 hektaar geleë en het glo nog “volop ruimte” vir bykomende ontwikkeling en dienste.

lanseria
Grafika: lughawe

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.