Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plase ontruim weens gaslek buite Wellington

Minstens vyf plase in die omliggende gebied van die Rheinmetall Denel Munition-fabriek tussen Wellington en Hermon in die Wes-Kaap, het hul wonings ontruim.

Swaelsuurgas, oftewel oleum, lek sedert Donderdagoggend by dié fabriek.

Die grys wolk van swaelsuurgas, oftewel oleum, hang in die lug naby Wellington. Verskeie inwoners binne ’n 3 km-radius van die gebied is reeds ontruim. Foto: Verskaf

Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het bevestig inwoners binne ’n 3 km- radius van die fabriek moet dadelik die gebied ontruim.

Otto sê hulle moet na die burgersentrum in Wellington gaan waar hulle deur mediese personeel geëvalueer sal word.

Niemand is nog beseer in die voorval nie.

Wetstoepassers is tans op die toneel en die R44 is by die Soetendal-afrit vir verkeer gesluit.

Colin Dreiner, hoof van die provinsie se rampbestuur, het bevestig daar is ’n oleumlek by die fabriek.

“Die lek kom van een van die installasies. Een van die pype het ingegee.”

Oleum is baie gevaarlik vir mense en diere.

Luidens ’n dokument wat Dreiner verskaf het oor die risko’s van die chemiese stof en hoe om daarmee te werk, kan oleum die vel, oë en lugweë wegvreet, en kan die inaseming van groot hoeveelhede dodelik wees. Dit kan in reaksie met organiese produkte ook aan die brand slaan.

Dreiner sê in dié stadium word die situasie streng gemonitor. Daar is nie tans ’n wind wat waai nie, maar die gaswolke sal gemonitor word.

Volgens Otto is die gaswolk grys van kleur en beweeg dit in die rigting van die Groenberg-gebied.

Volgens Otto is die gaswolk grys van kleur en beweeg dit in die rigting van die Groenberg-gebied.

Sy het almal aangeraai wat dink hulle het in kontak gekom met hierdie stof, om na hul naaste hospitaal te gaan.

Inwoners het op hul WhatsApp-groepe mekaar ingelig watter plase reeds ontruim is. Inwoners van vier plase, Palmiet Vallei, Lupinvale, Bontebok Ridge en Klein Limietrivier, het teen 12:30 bevestig hulle het hul plase ontruim. Nog ’n gesin, wat nie die plaas se naam gegee het nie, het ook gesê hulle het ontruim.

Dreiner sê die wolk begin lig, maar dit moet steeds streng gemonitor word. Hulle is in gereelde kontak met die Suid-Afrikaanse Weerdiens oor moontlikheid dat die wind kan opsteek. Indien wel, sal die situasie geëvalueer word en die nodige stappe sal volg.

“In dié stadium word almal deur nooddienswerkers geëvalueer,” sê Dreiner.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.