Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Platsak SAUK beteken dis net skottel vir WB

Sonder ’n DStv-skottel gaan jy waarskynlik nie vanjaar kan sien hoe die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi speel nie.

SuperSport het reeds die uitsaairegte bekom en is bereid om dit aan die SAUK te verkoop.

Clinton van der Berg, woordvoerder van SuperSport, het bevestig daar is nog geen ooreenkoms vir die toernooi, wat op 20 September begin, of vir die Curriebeker nie.

Volgens Alec Moemi, uittredende direkteur-generaal van sport, kuns en kultuur, kan die SAUK weens geldprobleme nie meeding om die regte daarvoor te koop nie.

Die SAUK het vier dae voor die begin van die WB-kriekettoernooi met groot fanfare aangekondig hy het ’n ooreenkoms met SuperSport bereik om die Proteas se wedstryde regstreeks uit te saai. ’n Dag ná die Proteas se nederlaag teen Engeland in die openingswedstryd het dit egter geblyk die SAUK het slegs die regte vir twee wedstryde bekom. Die enigste ander wedstryd wat uitgesaai is, was die Proteas se nederlaag teen Bangladesj.

Die Springbokke se enigste tuiswedstryd in die Rugbykampioenskap, teen Australië, is wel verlede naweek oor radiokanale van die SAUK uitgesaai ingevolge ’n ooreenkoms met SuperSport. Daar was nie ’n regstreekse televisie-uitsending nie, maar dis wel later uitgesaai.

Moemi meen ’n bankrot SAUK is die grootste struikelblok vir die groei van sport in Suid-Afrika.

Hy het Woensdag voor die parlement se gekose komitee oor onderwys, tegnologie, kuns en kultuur verslag gedoen oor sy departement se jaarlikse prestasieplanne en begrotings. Moemi het verwys na Tito Mboweni, minister van finansies, se aankondiging Dinsdag dat die SAUK gevra het vir hulp van R2 miljard, wat waarskynlik uit die staatskas se gebeurlikheidsreserwefonds sal moet kom.

Volgens Moemi is die feit dat die SAUK nie ’n toegewyde sportkanaal het nie, ’n groot probleem. “As hulle byvoorbeeld na SA Rugby gaan vir die regte om die Curriebeker-toernooi uit te saai en R500 miljoen daarvoor betaal, sal die helfte daarvan reeds vermors wees omdat die uitsaaier nie toegewyde lugtyd en ruimte op sy kanale het om dit uit te saai nie.

“Hul hele model vir die uitsaai van sport is daarom gebrekkig en keer die uitsaaier om mededingender oor uitsaairegte te wees. Hul eie bestuur het erken hulle is in geen posisie om enigiets te koop nie.”

Chris Maroleng het verlede jaar voor sy afdanking as SAUK-bedryfshoof gesê die manier hoe sportuitsaairegte bekom word, is nie “wedersyds voordelig” nie. In 2018 het die SAUK meer as R1,2 miljard vir sulke regte betaal.

SuperSport wil nie bedrae bekend maak nie, maar SA Rugby het verlede jaar R669 miljoen met die verkoop van uitsaairegte verdien. SuperSport het meer as 10 000 uur van rugby uitgesaai teenoor die SAUK se 43 uur.

Die SAUK het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Dstv  |  Supersport  |  Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.