’n Polisievrou wat eintlik skelms moet vang, moes al haar ander vaardighede inspan om dié keer eerder ’n baba te vang.
Sers. Debbie Alard van die polisiekantoor in Melkbosstrand het vinnig gedink toe Emily Lucas (29) omstreeks 23:00 na die polisiekantoor gebring is omdat die ambulansdiens nie bereik kon word nie.

Emily Lucas en haar pasgebore baba.Foto: Debbie Alard
Alard het besef die baba gaan enige oomblik kom en sê sy het Christa Kleynhans, ’n voedvrou van Melkbosstrand Community Medics, gebel om te help.
“Ons het die vrou, wat reeds in kraam was, na die traumakamer gebring omdat ek kon sien die baba is baie naby,” sê Alard.
Alard moes die ma en baba dophou en uiteindelik die naelstring knip.
“Dit was die grootste ding vir my! Terwyl Christa besig was met die ma, het ek seker gemaak die baba is warm.”
Die meisietjie, Lucas se derde kind, is om 23:20 gebore.
“Die ma en haar baba is albei piekfyn. Die kleinding het gedrink en dit is ’n goeie teken. Sy is perdfris en gesond.”
“In al die jare dat ek in die polisiediens is, was dit die beste ervaring. Daar is niks so mooi soos ’n baba se geboorte nie,” sê sy.
Sy sê hulle was paniekbevange en baie verlig toe die kleinding uiteindelik gebore is.

Sers. Debbie Alard en die baba wat sy in die lewe help bring het.Foto: Debbie Alard
Die ambulans het toe uiteindelik om 03:00 opgedaag en die ma en baba is na die Westfleur-hospitaal in Atlantis gebring. Albei is nog in die hospitaal.
Alard het die gemeenskap bedank vir klere en komberse wat aan die polisiekantoor geskenk word.
“Dit help baie in sulke noodgevalle. Die baba was die hele tyd snoesig en warm.”