Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plet-inwoner bedrieg matriek-ouers glo uit duisende
Dié groep skoolverlaters van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria se ouers kon gelukkig vir hulle alternatiewe verblyfreëlings tref.Foto: Nadine Theron

Toe Adele Niemann se seun Selwyn haar van die George-lughawe af bel en sê dat hy en sy maats se vervoer Plettenbergbaai toe nie opgedaag het nie, het sy sommer geweet hulle is ingeloop.

“Ek het daai sinking feeling gekry,” vertel sy.

Niemann het vroeër vanjaar blyplek op Plettenbergbaai vir haar seun en sewe maats se matriekvakansie deur ’n maatskappy met die naam Ethos Holidays bespreek nadat sy ’n advertensie op Gumtree gesien het. Sy het altesame R28 000 inbetaal vir sewe dae se verblyf.

Toe Selwyn die man probeer kontak by wie hulle blykbaar verblyf bespreek het en wat hulle by die lughawe sou kom haal het, was sy foon af.

Nadat ’n alternatiewe plan gemaak is om Vrydag in Plet uit te kom, het die groep seuns van die Hoërskool Waterkloof gevind dat daar reeds gaste in die huis bly wat hulle glo bespreek het.

“Ons het daar aangekom en daar’s ander mense in die huis en hulle het bewyse dat hulle daar bespreek het,” sê Emus Erasmus, een van die groep seuns. “Toe begin ons stres en weet nie wat om te doen nie."

Die Plettenbergbaaise gemeenskap is op soek na ’n inwoner, Rick Havemann, nadat matriek-ouers blykbaar ingeloop is en duisende rande se verblyfgeld glo verdwyn het.

Niemann het intussen ander inwoners van Plettenbergbaai gebel na wie die man haar vroeër die jaar verwys het toe sy verblyf vir haar suster gesoek het. Só het sy uitgekom by ’n vrou wat voorheen gewerk het vir die man wat die besprekings gedoen het. “Jy is ingeloop,” het die vrou glo aan ’n verslae Niemann gesê.

Niemann is geskok. Sy was heel jaar lank met die man telefonies en per e-pos in verbinding en het in Mei vanjaar vir haar suster gevra om te kyk of sy adres bestaan. Dit het. Hy het ’n bankrekening in die maatskappy se naam gehad en sy het nog twee dae voor die tyd met hom gekommunikeer.

Bruce Richardson, voorsitter van Plettenbergbaai se misdaadbekampingsvereniging, sê tussen 50 en 100 matrieks is ingeloop deur ’n man wat vals verblyf adverteer het.

“Daar’s kinders wat die hele jaar lank spaar om Plet toe te gaan vir die matriekvakansie,” sê Niemann. “Ons as ouers moes toe besluit wat om te doen. Kom jou kind terug? Gelukkig kon ons weer vir hulle blyplek kry, maar ons moes weer uithaal.”

’n Inwoner van Plettenbergbaai wat anoniem wou bly, sê die man en sy familie het op die dorp gebly en dat hulle bekend is aan die gemeenskap. Sy het hulle self goed geken en is totaal verslae.

“Ek is geskok tot in my diepste binneste,” sê sy. “Ek het niks geweet van hierdie kant van die persoon se karakter nie.”

Die gesin is volgens Plet-inwoners tans met vakansie oorsee. Sy vrou het glo die gastehuis Raven’s Place saam met hom bestuur.

Netwerk24 kan bevestig dat die man wel ’n maatskappy met die naam Ethos Real Estate besit en dat sy vrou wel aangestel is deur Raven’s Place, wat ook sy sakeadres is.

Die adres wat hy vir Niemann gegee het as sy huis s’n, was egter dié van ’n skool, het die seuns gevind toe hulle hom daar gaan soek het.

“Wat vir my ook ’n groot bekommernis is,” sê Niemann, “is dat dit klink asof hy dit met baie mense ook met Desember-besprekings gedoen het. Hierdie mense gaan opdaag vir hul vakansie en dan gaan dieselfde gebeur.”

Lede van Plettenbergbaai se gemeenskap is op hol oor die beweerde diefstal en almal is op soek na die man.

Dis ’n baie slegte ding wat op Plet gebeur het en om dit aan kinders te doen!

“Dis ’n baie slegte ding wat op Plet gebeur het en om dit aan kinders te doen!” sê die inwoner van Plettenbergbaai. “Ek hoop die polisie kry hom; hierdie soort ding is nie goed vir die gemeenskap of Plet nie.”

“Ek was redelik bummed, dit was rof aan die begin,” sê Ruan Rabie, een van Selwyn Niemann se vriende. “Maar hierdie laaste paar dae was regtig die beste tyd van my lewe.”

Die seuns het daardie middag ander feesgangers gesien wat met hul tasse in die strate rondgeloop het en gesê het dat hulle ook ingeloop is.

Anthony Jacobs, een van die eienaars en organiseerders van Plett Rage, sê die feesorganiseerders het ’n noodplan gemaak om die matrieks wat met verblyf ingeloop is te akkommodeer en 60 tente is vir hulle in die Rage Village opgeslaan.

“Jis, dit was bad. My hele vibe was weg. Jy sien so uit om gou te stort en te begin kuier en dan het jy nie eens ’n huis nie,” het Erasmus gesê.

Kapt. Malcolm Pojie van die Plettenbergbaaise polisie het bevestig dat twee sake van bedrog aanhangig gemaak is.

“Die verdagte is in sy vroeë 50’s en het aanlyn verblyf geadverteer en dubbele besprekings gedoen sonder dat sy kliënte dit agtergekom het.” Die polisie het nog nie die verdagte in hegtenis geneem nie en die ondersoek is tans aan die gang.

“Ons glo dat nog slagoffers in die week na vore sal kom,” sê Pojie.

Meer oor:  Plettenbergbaai  |  Swendelaar  |  Kuier  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.