Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plet-toerisme: ‘Omvattende proses’ aan die gang om oproer te keer

’n Omvattende proses is aan die gang ná die onlangse oproerigheid in Plettenbergbaai om te verseker dat so iets nie weer op die dorp gebeur nie.

So sê Bruce Richardson, waarnemende voorsitter van Plettenbergbaai-toerisme, nadat onluste op 2 Julie in die omgewing van die N2 uitgebreek het en dit tot 6 Julie gesluit moes word.

Volgens hom is die skade nog nie vasgestel nie, maar dit beloop waarskynlik miljoene rande.

Hy sê dit is vreedsaam en stil in Plettenbergbaai en die dorp is veilig vir vakansiegangers.

“Ons is besig met ’n omvattende proses om seker te maak dat so iets nie weer gebeur nie,” sê hy. Die proses sluit belanghebbendes en die gemeenskap in.

Plettenbergbaai is ’n gewilde toeristebestemming. Foto: Plettenbergbaai-toerisme

Buiten die finansiële skade het die protesoptrede volgens hom “ongesiene skade” aangerig. “Iemand sit, byvoorbeeld, in Londen en sien in die nuus wat aangaan en besluit om nie in Plettenbergbaai vakansie te kom hou nie,” sê hy.

Hy sê hulle gaan egter die dorp soos normaalweg bemark.

Vroeër is berig dat minstens 22 private ondernemings in die nywerheidsgebied glo onder vandale en inbrekers deurgeloop het. Kantore is verwoes en rekenaars is onder meer gesteel.

Sommige ondernemings het selfs veiligheidsdienste van elders gehuur om hul persele op te pas.

Van die ondernemings wat deurgeloop het, is die gewilde Spotlight-nagklub in die nywerheidsgebied, het die Bitou-munisipaliteit vroeër in ’n verklaring gesê.

Munisipale infrastruktuur is ook beskadig, maar die omvang van die skade is nog nie vasgestel nie. Dit beloop ook waarskynlik miljoene rande.

Betogers verskyn in hof

Altesaam 33 mense wat in verband met die geweldpleging in hegtenis geneem is, het verlede Maandag in drie verskillende sake in die plaaslike landdroshof verskyn, sê die polisie.

Sewe van die beskuldigdes, wat op aanklagte van openbare geweld en huisbraak teregstaan, bly tot hul volgende verskyning op 2 Augustus in aanhouding wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Altesaam 19 ander wat op aanklagte van openbare geweld teregstaan, is reeds op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle sal weer op 24 Julie in die hof verskyn.

Nog sewe, wat in Kwanokuthula op klagte van huisbraak en diefstal in hegtenis geneem is, is op waarskuwing vrygelaat en sal weer op 14 Augustus in die landdroshof in Plettenbergbaai verskyn.

Die polisie het vroeër gesê dat 81 mense aanvanklik gedurende die oproer in hegtenis geneem is. Baie van hulle is vrygelaat weens ’n gebrek aan getuienis, maar hulle kan weer later in hegtenis geneem word.

Meer oor:  Plettenbergbaai  |  Betogings  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.