Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Plunderaars nie welkom in Gqeberha, sê polisieforums, sakelui
Mense Saterdag by ’n optog in Gqeberha wat gehou is om plundery in die stad te voorkom. Foto: Verskaf

Verskeie veiligheidsforums en die sakesektor in Gqeberha het saamgespan om plunderaars te waarsku dat hulle nie in die stad welkom is nie.

Nadat Gauteng en KwaZulu-Natal verlede week onder grootskaalse plundery deurgeloop het, het die distriksbestuur van Nelson Mandelabaai se gemeenskapspolisiëringsforum en die sakedistrik-gemeenskapspolisieraad verskeie belangepartye byeengekry vir ’n bewusmakingsveldtog.

Motorfietsryers het Saterdag ook deelgeneem aan die optog. Foto: Verskaf

Die veldtog is Saterdag van stapel gestuur om gemeenskappe in Kariega en Nelson Mandelabaai te verseker dat geen plundery of kriminaliteit daar sal voorkom nie.

Baie gemeenskapslede het opgedaag om die veldtog te ondersteun, lui ’n verklaring.

Oos-Kaapse motorfietsryers het ’n optog onder die vaandel “Not on our watch” van die taxistaanplek in Kariega begelei. Al die veiligheidsmaatskappye in die metro, buurtwagte, sakeondernemings, raadslede, godsdiensleiers, regerings- en nie-regeringsdepartemente, die polisie en die metropolisie het deelgeneem.

Die optoggangers het al die winkelsentrums in die metro besoek en inligtingspamflette uitgedeel waarin mense gevra word om nie aan plundery deel te neem nie.

Veiligheidsmaatskappye lei Saterdag ’n optog teen plundery in Gqeberha.. Foto: Verskaf

Ayanda Gcakasi, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, het gesê die optog word teen ekonomiese verwoesting gehou.

“Ons sal nie toelaat dat ons winkelsentrums en infrastruktuur verwoes word nie. Sulke optrede het verreikende gevolge en ons gemeenskappe sal die prys betaal ná sulke verwoesting. Ons kan nie toelaat dat wetsgehoorsame burgers hul werk verloor nie – veral omdat ons nog die Covid-19-pandemie moet bestry.”

“Die ondersteuning van die polisie en die metropolisie wys dat ons almal saamstaan teen misdaad,” het Gcakasi gesê.

’n Optog is Saterdag teen plundery in Gqeberha gehou. Foto: Verskaf

Saterdag het Caltex se streekkantoor ook sy waardering getoon deur 250 glimbaadjies te skenk aan die gemeenskapspolisiëringsforum in Bethelsdorp.

Die baadjies is by die Walker Drive-winkelsentrum aan Karen Kemp, forumvoorsitter, oorhandig.

“Nog geen voorvalle van plundery is in die gebied aangemeld nie,” het kol. Priscilla Naidoo, polisiewoordvoerder, Sondag by navraag gesê.

Meer oor:  Gqeberha  |  Plunderaars  |  Plunder  |  Geweld  |  Polisie  |  Sakelui
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.