Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
PNA hersien optrede ná aanranding van kind
Die seun is glo deur die veiligheidswag met ’n knuppel oor sy lyf en rug geslaan Foto: Verskaf

Die skryfbehoeftewinkel PNA gaan sy bedryfshandleiding hersien nadat ’n 16-jarige seun glo uit sy winkel in Lephalale (Eillisras) gesteel het en daarna deur ’n veiligheidswag van die winkelsentrum aangerand is.

Herman Botha, groephoofbestuurder van PNA, sê die bedryfshandleiding met verwysing na aanvaarbare praktyke vir die aanhouding van verdagtes van winkeldiefstal, gaan hersien word sodat al PNA se konsessiehouers opleiding sal ontvang om ’n soortgelyke voorval in die toekoms te voorkom.

“Ongeag die uitkoms van die polisieondersoek en die bevindinge van die interne ondersoek, het PNA reeds daadwerklike stappe gedoen om sy bedryfshandleiding te hersien.”

Dit is nadat ’n seun, wie se identiteit nie bekend gemaak mag word nie omdat hy minderjarig is, Donderdag by ’n winkelsentrum op die dorp deur ’n veiligheidswag aangerand is nadat hy vroeër die week glo ’n eksterne hardeskyf by PNA in dié sentrum gesteel het.

Die seun is glo met die vuis in die gesig bygedam Foto: Verskaf

Luidens ’n verklaring het PNA as konsessiemaatskappy, PNA Stationers (Edms) Bpk “onmiddellik ná die burgerlike arrestasie deur ’n veiligheidswag en die personeel van die PNA-winkel by die Lephalale Square-winkelsentrum tussenbeide getree” en ’n interne ondersoek na die beweerde voorval gelas.

Die veiligheidswag is nie ’n werknemer van dié PNA nie, maar wel van die winkelsentrum.

Volgens die seun se pa wou sy seun Donderdag ’n melkskommel by ’n winkelsentrum op die dorp gaan drink toe ’n vrou hom in die sentrum se parkeerterrein voorgekeer het.

“Sy het hom gevra wie en hoe oud hy is en het toe skielik ’n wag nadergeroep om hom voor te keer.”

Nadat die wag hom voorgekeer het, is die seun na bewering na ’n pakkamer van die skryfbehoeftewinkel PNA in dié sentrum geneem.

“ ’n Man het toe by die pakkamer ingekom en aan die wag gesê: ‘Do to him as you please’.”

Die seun het verskeie rooi hale oor sy rug. Foto: Verskaf

Die wag het die seun toe glo eers met die vuis in sy gesig geslaan en hom toe met ’n knuppel verder geslaan.

Naderhand is die seun glo deur die wag gedwing om op sy maag te lê en is hy herhaaldelik oor sy hele lyf met die knuppel geslaan.

“Ons is geskok om te verneem van die beweerde optrede van die veiligheidswag, asook dat dit plaasgevind het by een van ons konsessiewinkels,” sê Botha.

“Ons kan bevestig dat die werkgewer van die veiligheidswag sy dienste intussen opgeskort het en dat daar ’n saak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak is.”

’n Man het toe by die pakkamer ingekom en aan die wag gesê: ‘Do to him as you please’

Botha sê: “Die Suid-Afrikaanse regstelsel erken die regte van winkeleienaars om hulself te beskerm teen winkeldiefstal, maar terselfdertyd moet hulle die grondwetlike regte van verbruikers in gedagte hou.”

Volgens hom sluit dít onder meer die reg om met menswaardigheid behandel te word, asook die reg om as onskuldig beskou te word totdat die teendeel bewys word, in.

“PNA is daartoe verbind om met integriteit en met inagneming van die wette van die land handel te dryf, en ons verwag natuurlik dieselfde van ons konsessiehouers.

“Weens die erns van die saak het ek en een van PNA se direkteure Lephalale Sondag en Maandag besoek met die doel om al die feite in te samel om sodoende die nodige stappe te kan doen. Ons het ook na die seun se gesin uitgereik.

“Ons vertrou dat ons klante en die gemeenskap in die breë die uitslag van die indiepte-ondersoek geduldig sal afwag.”

Sambokhale op die seun se been. Foto: Verskaf

Meer oor:  Pna  |  Veiligheidswag  |  Aanranding  |  Lyfstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.