Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Poësie van die diaspora’ wen Ingrid Jonkerprys
Hilda Smits

Die wenner van vanjaar se Ingrid Jonker-prys is Hilda Smits vir haar digbundel die bome reusagtig soos ons was (Protea).

’n Oorblufte Smits het uit Philadelphia in die VSA, waar sy as psigoterapeut werk, gesê dié prys beteken vir haar geweldig baie.

“Ek is stom geslaan en dankbaar . . . ek skribbel maar nog altyd, maar hierdie is natuurlik motivering.”

Smits se bundel is deur een van die beoordelaars bestempel as “ ’n boeiende debuut” wat die leser by die hoogs persoonlike betrek en wat tegelykertyd ook betekenis aan die universele belewenis gee.

Luidens ’n verklaring deur Ronel de Goede (Foster), sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee, is 11 bundels voorgelê en was die kompetisie besonder straf.

Die beoordelaars het groot lof gehad vir die ander twee bundels op die kortlys: Hendrik J. Botha se Atropos en Bibi Slippers se Fotostaatmasjien.

Smits se verse beskryf die belewenis en hunkering van die expat, dit is “poësie van die diaspora wat na die vaderland terugreik, na ’n verlede en tye toe dinge eenvoudiger was”. In die beoordelaars se verslae word sterk klem gelê op die rol van die geheue en herinneringe.

Die titel berei die leser reeds voor op ’n onthouproses, “op hoe dinge met die verloop van tyd anders onthou of vertolk word”.

Die bundel voel vir een van die beoordelaars “soos ’n intieme gesprek waarop die leser instap, maar dit is die digter in gesprek met haarself, asof sy die deur tot haar geheue oop vergeet het”.

Die beoordelaars was Johann de Lange, Louis Esterhuizen en Nathan Trantraal.

Die ander komiteelede is Leon de Kock, Finuala Dowling, Vincent Oliphant en Beverly Rycroft.

Danie Marais, vorige sameroeper, tree as adviseur op.

Die prys word op 16 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Simone Jonker, dogter van Ingrid Jonker, sal die prys oorhandig.

Meer oor:  Poësie  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.