Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
POF, regsfirma boos oor regter hul praktyke looi

’n Regter in die hooggeregshof in Johannesburg het die afgelope week deurgeloop nadat sy bevind het een van die land se bekendste regsfirmas wat padongelukeise hanteer, het eise “kunsmatig opgejaag”.

Regter Denise Fisher het Maandag twee skikkingsooreenkomste wat die Padongelukfonds (POF) met die Gautengse regsfirma De Broglio bereik het as twyfelagtig bestempel.

In ’n sterk bewoorde uitspraak het Fisher onder meer:

1. Bevind die POF behoort dringend gelikwideer of onder administrasie geplaas te word.

“Dit is die enigste manier dat die bloeding van miljarde rande in staatsgeld gestuit kan word.”

2. De Broglio en twee van die firma se regsverteenwoordigers se optrede by die Regspraktykraad aangegee; en

3. ’n Aktuaris en ’n dokter wat De Broglio as deskundiges in twee sake gebruik het by hul onderskeie beroepsrade aangegee omdat eise glo “kunsmatig opgejaag” is.

Die POF en De Broglio is albei woedend.

Michael de Broglio (regs) van De Broglio-prokureurs in Parkwood, Johannesburg. Foto: Facebook

In die twee sake het Marilyn Taylor en Hlengani Mathonsi met De Broglio as hul prokureur eise weens padongelukke teen die POF ingestel. Fisher sou dit aanhoor, maar die eise is buite die hof geskik en daar is aan haar gesê dis nie nodig dat sy die skikkings met ’n hofbevel bekragtig nie.

Fisher het gaan grawe en tot die slotsom gekom die skikkingsbedrae is kunsmatig opgejaag. De Broglio het volgens haar “doelbewuste wanvoorstellings” aan die POF gemaak.

Deur die “konkelry” van ’n prokureur van De Broglio, asook ’n advokaat, is ’n aanbod van R1,3 miljoen uit die POF “getrek” vir Taylor. In haar geval is bevind sy was voor die ongeluk ’n kantoorassistent wat hoofsaaklik koffie en tee gemaak het teen ’n salaris van R5 500 per maand. Volgens Fisher is haar beserings erg oordryf, sy het ten volle herstel en boonop het sy nie haar werk weens die ongeluk verloor nie, maar bedank.

Mathonsi, ’n pakhuistoesighouer, het R1,7 miljoen gekry nadat hy sy sleutelbeen in ’n ongeluk gebreek het. Hy het ook sy werk behou.

Die regter het bevind albei eisers se “loopbaan-aspirasies” is in die aktuariële berekenings “oordryf of selfs versin”.

In albei gevalle het die eisers se regsverteenwoordigers volgens Fisher probeer om regterlike toesig oor die skikkings te vermy. Die skikkings is bereik in omstandighede wat dui op “oneerlikheid en/of growwe onbekwaamheid”.

Hoe meer die regbank maatstawwe instel om die korrupsiegolf in die POF-arena te stuit, “hoe meer skuiwe” maak eisers se prokureurs en die POF om die maatstawwe te omseil.

Die POF mag natuurlik in sake skik, maar dan moet dit wetlik en grondwetlik wees. Die POF doen roekeloos sake in insolvente omstandighede, het Fisher bevind.

William Maphutha, POF-woordvoerder, sê hulle glo in regterlike toesig, maar in dié geval het die regter te ver gegaan. “Ons win regsadvies in oor ons regsmiddele, soos om dit by die Regterlike Dienskommissie aan te meld.”

Maphutha wys ook daarop die POF het pas ’n skoon oudit by die ouditeur-generaal gekry.

Michael de Broglio van De Broglio-prokureurs het Fisher se bewerings ontken.

Hy sê die firma gaan appelleer teen die uitspraak, wat gelewer is sonder om getuienis van die firma en deskundiges aan te vra.

Meer oor:  Johannesburg  |  Padongelukfonds  |  De Broglio  |  Eise  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.