Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
POF 'versuim plig', maak reg vir eise van miljoene

Drie mense eis in afsonderlike gevalle miljoene van die Padongeluksfonds (POF), nadat dié glo sy plig versuim het met die hantering van hul eise.

In een geval het ’n polisievrou wat in ’n motorongeluk onder meer brein-, hoof- en oogbeserings opgedoen het, net R500 000 “as tussentydse betaling” ontvang, terwyl twee ander persone se eise, volgens hul prokureur, Jean-Paul Rudd van Adams en Adams Prokureurs, summier afgekeur is.

Al drie die eisers het, soos wat die POF destyds die publiek aangemoedig het, hulle derdepartyeise self direk ingedien, sonder die hulp van ’n prokureur.

“Die verweerder (POF) is volgens die Grondwet onderworpe aan die Handves vir Menseregte met die wetlike plig om slagoffers van voertuigongelukke te vergoed,” lui die onderskeie hofstukke waarin POF gedagvaar word.

Dit verduidelik dat die POF juis destyds mense aangemoedig het om hulle eise direk in te dien.

“Openbare kantore, beman deur werknemers van die eiser, is by (byvoorbeeld) hospitale ingerig, sodat slagoffers die fonds direk kan kontak,” sê die hofdokumente.

Daarby het die fonds ’n wetlike plig om alle eise deeglik te ondersoek met die doel om “die grootste moontlike beskerming te bied vir persone wat verlies gely het weens ’n nalatige of onwettige handeling deur ’n bestuurder/eienaar van ’n voertuig”.

Daarom is dit die fonds se plig om eisers by te staan en betyds, voordat ’n eis verjaar, te help om aan die vereistes te voldoen.

Rudd verduidelik die fonds het juis mense aangemoedig om hulle self te nader, omdat dit goedkoper sou wees en “skelm” prokureurs uitskakel.

“Nou moet hierdie kliënte steeds ’n prokureur se hulp inroep om die fonds te dagvaar, omdat die fonds kragtens die wetgewing sy plig versuim het,” sê Rudd.

In die geval van Kehilwe Cynthia Tlhopile, destyds ’n studentekonstabel in die polisie, was sy reeds in Maart 2010 betrokke in ’n ernstige botsing.

Sy was ’n passasier in die agtersitplek by ’n botsing reg van voor en het verskeie gesig-, kop- en ’n breinbesering opgedoen.

Sy het self ’n eis by die POF ingedien. In Julie 2014 het die Fonds aanspreeklikheid vir 100% van haar bewese beserings en finansiële skade weens die ongeluk aanvaar.

Rudd het, volgens hofdokumente, uitgewerk dat Tlhopile geregtig is op meer as R3,5 miljoen vir vorige en toekomstige mediese uitgawes, verlies aan inkomste en ander skade.

Tlhopile is genader met ’n tussentydse aanbod van R500 000, sowel as ’n onderneming om verdere mediese koste te betaal.

“Sy is verduidelik dat die tussentydse aanbod bedoel is om haar by te staan totdat die volle eis afgehandel is, aangesien dit toe reeds vier jaar sedert die ongeluk was,” verduidelik die hofstukke.

Tlhopile het dit aanvaar.

Haar volle eis het egter intussen verjaar sonder dat dit afgehandel is.

Rudd het, volgens hofdokumente, uitgewerk dat Tlhopile geregtig is op meer as R3,5 miljoen vir vorige en toekomstige mediese uitgawes, verlies aan inkomste en ander skade.

Letlhogonolo Dan Thobega, ’n skopgraafoperateur, en Kelebogile Thelma Jacobs, ’n operateur by ’n inbelsentrum, eis op hul beurt elkeen meer as R4 miljoen nadat hulle eise na bewering sonder ’n volledige ondersoek afgekeur is.

Thobega het by ’n ongeluk in Januarie 2010 verskeie beenbreuke, ’n kopbesering en snye opgedoen.

Jacobs was ’n voetganger toe ’n taxi haar in Februarie 2011 raakgery het. Sy het ook verskeie ernstige beserings opgedoen.

Rudd voer aan dat, indien Thobega en Jacobs se eise na behore ingedien is en die POF dit na wense ondersoek het, hulle op vergoeding geregtig sou wees.

Die POF staan die eise teen.

Meer oor:  Ongelukke  |  Eise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.