Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie bekyk kwessie van Lesufi-pop

Die polisie ondersoek ’n saak van intimidasie nadat ’n groep mans Woensdag ’n pop met die gesig van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, aan ’n boom opgehang het.

Kapt. Kay Makhubele, Gautengse polisiewoordvoerder, sê ’n klag van intimidasie is ingedien en die polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê die klag is Donderdag by die Sentraal-Johannesburg-polisiekantoor ingedien en die saak is intussen na die Sentraal-Pretoria-kantoor oorgeplaas.

Die pop wat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, voorstel wat Woensdag aan ’n boom buite die departement van basiese onderwys se kantoor in Pretoria opgehang is. Foto: Verskaf

Die ANC in Gauteng het die “rassistiese wit mense” wat Woensdag by die departement van basiese onderwys se kantoor in Pretoria ’n groot pop in ’n ANC-hemp met Le­sufi se gesig daarop aan ’n boom opgehang het, in ’n verklaring veroordeel. Daar was ook ’n plakkaat waarop Lesufi van die verkragting van Afrikaans beskuldig word.

Lesufi het op Twitter gereageer deur te sê: “Hierdie morone het na ons kantoor gekom om ‘my op te hang’. Ons het jul rassistiese grootouers oorwin. Julle is niks!”

Intussen het die EFF die optrede by die departement se kantoor ook in ’n verklaring veroordeel.

“Dit is nie net Lesufi wat verneder is nie, maar alle swart mense,” lui die verklaring.

Lesufi het die EFF op Twitter bedank vir sy ondersteuning.

Wat die regsaspekte betref, sê Alet Uys van Alet Uys Prokureurs in Pretoria Lesufi se regte as individu en as ampsdraer is hier ter sprake.

As individu kan hy sivielregtelik stappe begin deur vir hom en sy gesin ’n tussentydse interdik teen spesifieke mense wat hul kan identifiseer van die hof te vra, sê sy.

Dit sal van krag wees sodra Lesufi en sy gesin eedsverklarings afgelê het.

Die tussentydse interdik sal diegene wat Lesufi teister, dan die geleentheid gee om hul beantwoordende eedsverklarings voor ’n keerdatum in te dien. Op dié datum sal die hof na albei kante luister en besluit of ’n finale interdik verlang word, sê Uys.

Lesufi kan ook die strafregtelike paadjie stap deur klagte by die polisie in te dien, soos hy reeds gedoen het.

“Hoewel die Strafproseswet sulke misdade as minder ernstig klassifiseer, is die milieu in Suid-Afrikaanse howe nou so dat enige misdaad met ’n rasse-ondertoon baie swaar gestraf word. Ons het onlangs in die Vicky Momberg-saak gesien dat howe se geduld met rassevoorvalle op is.”

Transformasie neem toe en die regstelsel is daarop ingestel om dit aan te help en toe te laat.

Wat Lesufi se regte as ampsdraer betref, moet hy as LUR van onderwys sekere doelwitte bereik, sê Uys.

“Hoewel hy die gesig van die transformasie van onderwys in Gauteng is, is die agenda nie net sy besluit nie. Daar is nasionaal ’n agenda om die land en ook die skoolstelsel te transformeer.

“Dit is dus irrasioneel en dui op onkunde wanneer mense Lesufi teiken terwyl hy eintlik net in sy amp ingevolge die Grondwet en volgens die regerende party se beleid optree.”

Uys sê grondwetlike kwessies is nie strafregtelik vervolgbaar nie.

“Met ander woorde daar is nie ’n manier om mense wat transformasie teenstaan te probeer straf of van hulle te eis nie.

“Mense wat nie in die huidige Suid-Afrikaanse bestel met die Grondwet as die oppergesag kan aanpas nie, moet hul plek in die huidige samelewing heroorweeg. Transformasie neem toe en die regstelsel is daarop ingestel om dit aan te help en toe te laat.”

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Anc  |  Eff  |  Onderwys  |  Politiek  |  Polisie-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.