Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie ‘boelie’ restaurant oor drank
Atrayo Nolte, algemene bestuurder van Hennie’s in Moreleta Park in Pretoria was Vrydag etlike ure lank toegesluit nadat die restaurant daarvan beskuldig is dat hy onwettig drank verkoop. Foto: Deaan Vivier

Hoe moet restaurante oorleef “as die polisie hulle ook nog boelie?”

Die Hennie’s Sportkroeg en Restaurant in Moreleta Park, Pretoria, oorweeg regstappe teen die Gautengse polisie nadat hul algemene bestuurder glo onregmatig aangehou en op derduisende rand se drank beslag gelê is.

“Dit is so onregverdig. Hoe meer ’n mens uit die boks dink om te oorleef hoe meer word jy geboelie,” sê Rikus de Beer (oftewel Jonathan van Radio Raps-faam), stigter van die Hennie’s-franchise.

“Ja, ons kry swaar maar wanneer die verbod gelig word, wil ons weer sake doen. Enige drankverkope en daar gaan jou lisensie in elk geval. Dit is dus ondenkbaar dat ons so iets sal doen. Dis hoekom ons ’n heel nuwe nie-alkoholiese spyskaart opgestel het.”

Dit is so onregverdig. Hoe meer ’n mens uit die boks dink om te oorleef hoe meer word jy geboelie.

Werner Pretorius, franchise-eienaar van die tak in Moreleta Park, is moedeloos oor wat gebeur het.

Twee kliënte het verlede Vrydag kort ná oopmaaktyd alkoholiese drankies bestel. Hulle is meegedeel dat dit onder die huidige inperkingregulasies onwettig is om drank te verkoop en na die spesiale nie-alkoholiese spyskaart verwys.

Albei het toe ’n Castle Lite en alkoholvrye jenewer bestel en gevra: “Make it nice.”

Volgens Atrayo Nolte, bestuurder, is die “drankies” skaars voorgesit of twee polisiemanne verskyn by die deur.

“Waar is die drank?” is al wat hulle wou weet of in belanggestel het, sê Pretorius en Nolte. Hulle het ook aan die kliënte se drankies gaan ruik en was oortuig daarvan dat dit alkohol bevat.

“Ons het van toe af feitlik geen regte meer gehad nie, want hulle wou nie na rede luister nie,” sê Nolte.

Hy het in daardie stadium vir Pretorius, wat vir die naweek weg was, gebel en van die moeilikheid vertel.

Omdat die twee polisielede aanvanklik nagelaat het om hulself te identifiseer en die restaurant se Covid-19-register geïgnoreer het, was Pretorius versigtig.

“Alarms het dadelik by my afgegaan, want miskien is hierdie skelms, ’n mens weet nie,” sê hy.

Daarna is toe wel bevestig dat die twee lede van die Garsfontein-polisie is, en dat daar op die drank (ter waarde van R112 000) van die restaurant beslag gelê word, en daar geberg sal word.

Werner Pretorius (links), franchise eienaar van die Hennie’s Restaurant in Moreleta Park en Atrayo Nolte, algemene bestuurder, vertel hoe twee polisielede die restaurant beskuldig het dat hulle te midde van die drankverbod alkoholiese drankies aan kliënte verkoop. Foto: Deaan Vivier

Die restaurant se vol bottels drank is vir die duur van die derde drankverbod in ’n stoor toegesluit. Die bottels wat halfvol is, is in ’n tweede stoor toegesluit en die nie-alkoholiese drankies is agter die kroegtoonbank gebêre.

Net die vol bottels, met sekere van die nie-alkoholiese drankies “vir toetse”, is saamgeneem.

“Een van die kelners het tot vir die twee gesê hy is bereid om die ‘drank’ te drink en dan kan ’n asemtoets op hom gedoen word,” sê Pretorius.

Hy is ook bitter omdat die polisie Nolte met sy aankoms by die polisiekantoor in hegtenis geneem het.

“Hulle het vir ons gesê Nolte moet saamgaan om ’n verklaring te teken dat die drank by die polisiekantoor ingedien is,” sê Pretorius.

Die volgende oomblik is Nolte in die selle saam met tientalle verdagtes sonder gesigmaskers gedruk.

“Dit is vir my ironies dat hulle hier die regulasies afdwing wat ons teen Covid-19 moet beskerm, maar in die polisiekantoor word die reëls nie nagekom nie,” sê Pretorius.

Borgtog is amper agt uur later teen R2 000 vasgestel en Nolte is teen 22:00 eers vrygelaat.

Dit is vir my ironies dat hulle hier die regulasies afdwing wat ons teen Covid-19 moet beskerm, maar in die polisiekantoor word die reëls nie nagekom nie.

Die landdroshof in Hatfield het Dinsdag besluit om nie die saak op die rol te plaas nie.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, is die saak weens ’n gebrek aan bewyse teruggetrek.

Pretorius se regsverteenwoordiger, Alet Uys, sê dit is ’n wetlike vereiste vir die polisie om ’n prima facie-saak te hê voordat iemand in hegtenis geneem word.

Die stoorkamer waar die Hennie’s Restaurant in Moreleta Park hul drank toegesluit het. Nou is die stoor leeg nadat die polisie op al die drank beslag gelê het. Foto: Deaan Vivier

“Ons eis sal gegrond wees op die feit dat daar op die oog af nie énige saak was nie,” sê Uys.

Sy en haar kliënt berei nou ’n siviele eis voor.

Vir Pretorius is dit ’n beginselsaak. “Die Grondwet maak dit duidelik dat ons almal met waardigheid behandel moet word, selfs deur die polisie. As hulle tien minute geneem het sou hulle gesien het ons is onskuldig. Maar in stede daarvan is ons dadelik skuldig bevind en soos misdadigers behandel,” sê hy.

Intussen het Mahanjana bevestig dat ’n soortgelyke saak ook weens ’n gebrek aan bewyse teen die Jack & Charlie’s Restaurant & Bar in Garsfontein, Pretoria, teruggetrek is. Ook in dié geval het polisie glo die restaurant daarvan beskuldig dat hy brandewyn verkoop.

Die eienaar wou nie die saak met die media bespreek nie.

Kapt. Mavela Masondo het Woensdag bevestig dat ondersoek ingestel word na al twee die gevalle “om te kyk wie die lede was wat die restaurante besoek het”.

Restaurante sal nie in die moeilikheid kom as hulle hul drank agter slot en grendel stoor nie.

“Indien die partye meen dat hulle verkeerdelik in hegtenis geneem is, moet hulle ’n saak in hul naaste polisiekantoor aanhangig maak.”

• Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het Woensdag die derde agtereenvolgende dag voor die Uniegebou in Pretoria gewag om met pres. Cyril Ramaphosa oor die drankverbod te praat.

Volgens Rasa se syfers (restaurante wat aan hul nasionale opname deelgeneem het) het 8% van die restaurante aangedui dat hulle binne die volgende dag gaan sluit indien die president nie optree om die bedryf te red nie.

In die volgende week sal 33% restaurante toemaak en 53% in die volgende maand.

Meer oor:  Rikus De Beer  |  Koronavirus  |  Drankverboed  |  Aandklokreël  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.