Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie by OB verkla oor agterstallige DNS-toetse

Die drukgroep Action Society gaan by die openbare beskermer (OB) ’n klag teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) indien weens die enorme agterstand met DNS-toetse.

Dit volg op die polisie se vergadering Woensdagoggend met die parlement se portefeuljekomitee oor polisie oor dié kwessie.

Die drukgroep oorweeg ook regstappe teen Bheki Cele, minister van polisie, “in die hoop dat hy verantwoordelikheid gaan neem vir die deurmekaarspul wat onder sy leiding ontstaan het en bedank”.

Action Society sê derduisende slagoffers sal weens die meer as 8 miljoen bewysstukke wat reeds verlore gegaan het, nooit geregtigheid sien seëvier nie.

“Ons is bekommerd oor die mate waartoe die SAPD besig is om die parlement en mede-Suid-Afrikaners te mislei.”

Die drukgroep het aan sy regspan opdrag gegee om ’n formele aanklag teen die polisie by die OB in te dien.

Volgens die drukgroep maak wanbestuur en wanadministrasie in die polisie inbreuk op Suid-Afrikaners se reg op gelykheid, hul reg op regverdige administratiewe optrede, asook hul toegang tot howe.

Ons is bekommerd oor die mate waartoe die SAPD besig is om die parlement en mede-Suid-Afrikaners te mislei.

Rekenaarstelsels wat die bewysstukke van die polisie se forensiese laboratorium bestuur, waaronder Property Control and Exhibit Management (PCEM), is weens ’n dispuut oor koste en wanbetaling sedert Junie verlede jaar afgeskakel.

“Afgesien daarvan dat onverwerkte DNS-toetse nou die 200 000-kerf nader, beteken dit ook dat die vuurwapenregister buite werking is.”

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het op die vergadering Woensdag gesê die polisie het van die Forensic Data Analysts- (FDA) ooreenkoms weggestap en reeds R2,9 miljoen betaal aan Sita, die IT-maatskappy waarin die regering die enigste aandeelhouer is, vir ’n nuwe rekenaarstelsel.

Die drukgoep is bekommerd oor die integriteit van dié stelsel.

“Ons is wel opgewonde dat die presidensie gehoor gegee het aan ons versoek en dat openbare-private-vennootskappe betrek gaan word om met die agterstand te help. In ’n land waar meer as 50 000 vroue per jaar verkrag en 25 000 mense vermoor word, is die stand van sake skokkend,” sê dr. Rineé Pretorius, woordvoerder van Action Society.

Die strafregstelsel is in die gedrang en Pretorius meen die polisie reël net nóg vergaderings of stig nog ’n komitee.

Action Society se klag fokus op:

• Kontrakbestuur en die toekenning van tenders;

• Die heringebruikneming van die FDA se “vertroude rekenaarstelsels” (spesifiek sodat DNS-toetse hervat kan word); en

• Dat die wysigings aan die Wet op DNS onderteken word sodat DNS-monsters van veroordeelde misdadigers geneem kan word om in ’n DNS-register gehou te word.

Suid-Afrikaners kan by https://actionsociety.co.za/switchoffgbv/ hul name by die klag byvoeg.

Die drukgroep se regspan gaan ook ’n hofaansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) teen die SAPD indien om toegang te kry tot die vorderingsverslag oor agterstallige toetse van die nasionale raad vir forensiese toesig en etiek (bekend as die DNS-raad).

“As ’n burgerregte-organisasie wat vir die regte van vroue en kinders veg, kan ons nie wag op terugvoering óf dat nog ’n komitee gestig word om die polisie te roskam nie. Elke slagoffer het die reg op hierdie inligting. Ons kan nie wag dat hul kwartaallikse verslae gereed is of dat hulle nog ’n vergadering belê nie,” sê Pretorius.

Meer oor:  Dns-Toetse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.