Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie dronk van mag toe hul kuierplek se drank vat

’n Gewilde kuierplek in Pretoria-Oos beskuldig polisiebeamptes daarvan dat hulle drank van sowat R155 000 gesteel het terwyl drankverkope nog verbode was.

Die “bietjie” drank wat die polisie teruggebring het nadat hulle glo veel meer bokse drank gekonfiskeer het.

Dit blyk die polisie het veral ’n voorliefde vir whiskey.

Die Padstal-restaurant, waar Afrikaanse sangers gereeld optree, gaan ’n diefstalklag teen die polisie indien.

Die vraag is nou: By watter polisiekantoor?

Mei Mei Dong, een van Padstal se eienaars, het op Vrydag 14 Augustus ’n hofbevel verkry wat die Silverton-polisiekantoor beveel om binne 48 uur die drank terug te bring wat op 15 Julie in die restaurant se stoorkamer gekonfiskeer is.

Mark Eybers, een van die vennote, sê hulle het uitgewerk die polisie het sowat R215 000 se drank gekonfiskeer, maar uiteindelik net sowat R60 000 se drank teruggebring.

Die dag toe die polisie Padstal se drank in een vangwa terugbring.

Hy sê dit het begin toe die verkoop van alkohol nog verbode was ingevolge die inperkingsregulasies.

’n Onbekende man het op 15 Julie ingestap en na die kroeg gegaan waar net koeldrank te koop was. Die man het ’n kroegman glo gevra om twee bottels brandewyn te koop.

“Die kroegman het ’n geleentheid gesien om geld te maak, want hy moes huur betaal,” sê Eybers.

Die werknemer het na die stoorkamer gestap, twee bottels brandewyn gaan haal en dit aan die man verkoop.

Minute later het “tussen tien en 15” gewapende polisielede by die kuierplek ingekom en albei in hegtenis geneem. Eybers sê die kroegman word van die oortreding van die rampbestuursregulasies aangekla, maar die “koper” het verdwyn. Niemand weet wie hy is of waar hy hom bevind nie.

Die restaurant se bord langs Lynnwoodweg in Pretoria-Oos.

Dit was polisiemanne van Silverton, Johannesburg en ’n teenbende-eenheid wat in drie vangwaens en twee motors opgedaag het, sê hy. Hulle is stoorkamer toe om te “kies en keur” tussen die drank. ’n Polisievrou het glo aan haar kollegas gewys wat om te vat en wat om te los.

Hulle het die voertuie tot barstens toe volgelaai met bokse drank en gery.

“Die polisie het gesê as ons ons voete in die polisiekantoor sit, sal hulle ons in hegtenis neem,” sê Eybers.

Ingevolge die hofbevel moes die polisie die drank teen Sondag 16 Augustus terugbring, maar het toe gesê hulle het nie voertuie daarvoor nie.

Hulle het dit toe die Maandag kom aflaai, maar net in een vangwa. Die polisie het vooraf die bokse toegeplak.

Eybers sê al die gekonfiskeerde whiskey is skoonveld. Van die brandewyn- en tequilabokse is daar uit elk een of twee bottels hardehout weg.

Hy sê Padstal val vanweë sy ligging onder Silverton se jurisdiksie. Dit beteken hy moet die diefstalklag indien by dieselfde kantoor waarteen die hofbevel verkry is.

Regter Colleen Collis, wat die bevel toegestaan het, het in haar uitspraak gesê die polisie het die stoorkamer sonder ’n lasbrief deurgesoek en drank gekonfiskeer. Die polisielede het geweier om ’n inventaris te gee van die drank wat gelaai is.

Die polisie het Padstal se eienaars boonop nie aangekla van enige oortreding wat die beslaglegging sou regverdig nie. Collis het die klopjag as onregmatig en ongeldig verklaar.

Die Gautengse polisie het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Inperkingsregulasies  |  Drank  |  Polisie  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.