Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie hou Henri fyn dop tydens besoek aan ouma

Henri van Breda moet vir die duur van sy besoek aan Gauteng die ondersoekbeampte in sy moordsaak, sers. Marlon Apollis, drie keer per dag bel.

Hy het toestemming van die direkteur van openbare vervolging (DOV) gekry om sy ouma aan moederskant, Rika du Toit (94), in Pretoria te besoek. Hy sal vir die duur van sy besoek by sy oom Francois du Toit bly. Du Toit is een van sy ma, Teresa, se broers.

Henri van Breda en sy meisie, Danielle Janse van Rensburg, Dinsdag op die lughawe in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Wanneer Van Breda Dinsdagaand in Pretoria by Du Toit se huis in Wapadrand aankom, moet hy die ondersoekbeampte van sy oom se landlyn af bel om Apollis te verwittig dat hy wel in Pretoria is.

Die vermeende bylmoordenaar moet ook voor of op Donderdag 17 Mei terug in Kaapstad wees.

’n Bebaarde Van Breda en sy meisie, Danielle Janse van Rensburg, het Dinsdag kort ná 16:00 ’n vlug vanaf Kaapstad na die Lanseria-lughawe in Johannesburg gehaal.

Henri van Breda en sy meisie, Danielle Janse van Rensburg, het Dinsdag ’n vlug na Johannesburg gehaal om by sy familie in Pretoria te gaan kuier. Foto: Jaco Marais

Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklag van poging tot moord en ’n aanklag van regsverydeling. Hy word daarvan aangekla dat hy sy ouers, Martin en Teresa, en sy broer, Rudi, in hul ouerhuis op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch met ’n byl vermoor het. Die aanklag van poging tot moord hou verband met die aanval op sy suster, Marli van Breda. Marli het die aanval oorleef.

Die staat voer ook aan dat Van Breda die moordtoneel gemanipuleer het.

Uitspraak in die verhoor word Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad gelewer en dié besoek is moontlik Van Breda se laaste kans om sy familie te sien indien hy skuldig bevind sou word.

Volgens inligting het sy pa se familie nie kontak met hom nie.

Van Breda was Dinsdag in ’n swart Pink Floyd-T-hemp en ’n swart denim geklee. Hy het ’n pienk mus op sy kop gehad. Janse van Rensburg, wat al gespog het met ’n rooi kop, blonde hare en ’n pienk kapsel, se hare is nou donker gekleur.

Die twee is met hul aankoms net voor 15:00 na die polisiekantoor op die Kaapstad-lughawe, waarna hulle na die vertreksaal is.

Hulle het kort voor 18:00 op die Lanseria-lughawe in Johannesburg aangekom waar hulle in ’n dubbelkajuitbakkie geklim en vertrek het.

Wanneer Van Breda van Pretoria na Kaapstad terugkeer, sal lede van die polisie hom na die O.R. Tambo-lughawe vergesel.

Hy het Dinsdag geen emosie getoon toe hy die flitsende kameras van die fotograwe gesien het nie.

Meer oor:  Henri Van Breda  |  Pretoria  |  Kaap  |  Ouma  |  Besoek  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.