Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie huiwerig om vlugtelinge op VN-perseel te verwyder

Polisielede was Donderdagmiddag huiwerig om sowat 150 betogende vlugtelinge van die perseel van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) in Brooklyn, Pretoria, te verwyder.

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag beveel dat die vlugtelinge die gebied binne drie dae moet verlaat.

Vlugtelinge betoog Donderdag op die perseel van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) in Brooklyn, Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

Regter Natvarlal Ranchod het die Tshwane-metro en die polisie opdrag gegee om die vlugtelinge te verwyder as hulle die gebied nie vrywillig verlaat nie.

Die vlugtelinge woon al sedert Oktober op die sypaadjies waar hulle tente opgeslaan en strukture opgerig het, omdat hulle ná die onlangse voorvalle in Suid-Afrika xenofobiese aanvalle vrees.

Ranchod het ook die vlugtelinge belet om ander munisipale wette te oortree deur onder meer inwoners te steur, woonstrukture op te rig, kos te maak of slegte reuke te veroorsaak.

Die Waterkloof-huiseienaarsvereniging, asook die inwonersvereniging van Brooklyn en oostelike gebiede het die dringende aansoek teen die vlugtelinge gebring nadat die vlugtelinge op die sypaadjies begin slaap het, berig News24.

Vlugtelinge gee besittings oor die heining van die perseel van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) in Brooklyn, Pretoria, aan. Foto: Felix Dlangamandla

Die balju het Donderdag die hofbevel by die UNHCR se kantore voorgelees toe van die vlugtelinge reeds op die perseel was.

Met Netwerk24 se besoek was van die vlugtelinge besig om hul wonings op die sypaadjie af te breek en oor die heining na binne te neem.

Vlugtelinge gee besittings oor die heining van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) in Brooklyn, Pretoria, aan. Foto: Felix Dlangamandla

Daar was ’n swaar polisieteenwoordigheid en strate was afgesper. Hoewel die vlugtelinge die eiendom onwettig betree het, was die polisie huiwerig om op te tree.

Luidens ’n verklaring van die UNHCR, wat Donderdag uitgereik is, eis die vlugtelinge dat die Verenigde Nasies (VN) hulle in ’n ander land hervestig.

“Die meerderheid van ons personeel het die gebou veilig verlaat. Ons is in gesprek met die betogers en raai hulle aan om nie geweld te gebruik nie, om die perseel te verlaat en om met praktiese oplossings vorendag te kom,” lui die verklaring.

Alex Mongo, van die Demokratiese Republiek van die Kongo, sê hulle beplan om “vir ewig” op die VN se perseel te bly tot die VN aan hul eise gehoor gee.

“Dit is nie vir ons veilig in die gemeenskappe nie, daarom bly ons hier. Ek het vir die polisie gesê as hulle ons hier wil wegneem, moet hulle met doodskiste kom. Ons word vermoor in die gemeenskappe.

“Die regering hou ’n beeld voor dat dit so goed gaan in Suid-Afrika, maar ons wil graag hier weg. Dit behoort Suid-Afrikaners mos gelukkig te maak, so hoekom help hulle ons nie?”

Van die vlugtelinge, waarvan sommige kinders, het op die VN se perseel betoog en gesing: “Bye-bye South Africa, Ramaphosa, xenophobia.”

Volgens Mongo sukkel vlugtelinge met hul aansoeke by die departement van binnelandse sake om wettige vlugtelingstatus te bekom.

Hy sê buitelanders ervaar xenofobie in polisiekantore, staatshospitale en openbare vervoermiddele.

Teen druktyd het die polisie nog die situasie dopgehou en die vlugtelinge was nog op die perseel.

Vlugtelinge het verlede maand in Kaapstad met die polisie slaags geraak waar hulle by die UNHCR se kantore daar uitgekamp het.

Die gebied rondom die kantoor van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) in Brooklyn, Pretoria, was Donderdag besaai met die oorblyfsels van informele wonings nadat vlugtelinge die UNHCR se perseel betree het. Foto: Felix Dlangamandla
Die vlugtelinge eis dat die Verenigde Nasies hulle in ’n ander land hervestig. Foto: Christiaan du Plessis
Vlugtelinge het Donderdag by die kantoor van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) in Brooklyn, Pretoria, allerlei planne beraam om die perseel van die UNHCR te betree. Foto: Felix Dlangamandla
Meer oor:  Verenigde Nasies (Vn)  |  Brooklyn  |  Pretoria  |  Verwyder  |  Hofbevel  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.