Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie konfiskeer ‘plunderbuit’ al wys hy kwitansie

’n Konstruksiewerker wat afgelê is, is sy twee kettingsae kwyt waarmee hy stukwerk in sy gemeenskap gedoen het.

Lede van die polisie, metropolisie en weermag dra ’n yskas en ander vermoedelik geplunderde goed uit ’n hut in Alexandra naby Sandton. Foto: TEBOGO LETSIE

’n Man wat ’n grootskerm-televisie by ’n plunderaar gekoop het, het dit weer verloor nadat die verkoper daaroor gebieg het.

Drie oumas sê hul komberse en kruideniersware waarmee hulle met stokvelgeld betaal het, is afgevat.

Dís enkele van die stories wat vertel word ná ’n klopjag deur ’n groep soldate, polisie- en metropolisielede in Boiketlong, ’n informele nedersetting in die Vaaldriehoek, Donderdag voor dagbreek.

Madupi Motholo (40) het sy werk in Desember verloor en daarna met ’n onderneming begin om hout aan die gemeenskap te verskaf.

“Twee polisiemanne het omstreeks 06:00 aan die deur geklop en toe my oudste seun die deur oopmaak, het ek die beamptes genader toe hulle my hut binnekom. Hulle het vir my gesê hulle wil die hele plek deursoek.

“Hulle het toe op my houtsaagmasjiene afgekom en volgehou ek het dit in die plundery gekry. Selfs al het ek vir hulle die kwitansie gewys, kon dit hulle nie oortuig dat ek nie ’n misdadiger is nie.”

Die regering het van ons behoeftes vergeet. Al wat hulle doen, is om hulself te verryk.

Kruideniersware en formulemelk vir sy babadogtertjie is ook afgevat.

“Ek gee nie soveel om vir die bietjie kos wat hulle gevat het nie, maar die toerusting is my brood en botter. Ek het nie die geld om nuwe masjiene te koop as die polisie weier om dit terug te gee nie.

“Ek is die enigste een wat ’n mate van ’n inkomste hier verdien,” sê Motholo, ’n pa van drie. “My twee broers en suster maak ook op my staat, dus is wat hulle (die polisie) gedoen het ’n groot slag omdat ek veronderstel is om hout te saag vir vier bestellings wat ek gister gekry het. Dis geld wat ek verloor.”

Hy weet nie waar om te begin om sy gereedskap te probeer terugkry nie.

Drie vroue wat ’n tweekamerhut met vier kleinkinders deel, is in dieselfde bootjie.

Seipati Faku (63), Amanda Lebethe (70) en Florence Sebata (67) sê hulle is beveel om ’n kwitansie te wys vir kruideniersware en komberse wat hulle deur hul stokvel gekoop het.

“Drie polisiebeamptes, vergesel van twee soldate, het gekom en aan die deur gehamer,” vertel Faku. “Toe ek oopmaak, het hulle net ingekom en begin soek. Hulle het goed op die kombuistafel gesien en dit net gevat. Nuwe komberse wat ons laas maand gekoop het en bo-op die hangkas gesit het, is ook gevat, al was die omhulsel vol stof.”

’n 46-jarige man by wie ’n 72 duim-TV-stel – in die verpakking verseël – gekonfiskeer is, het gesê hy dink nie dit was verkeerd om die televisie te koop nie, want dit was nie hý wat dit uit die Thabong-winkelsentrum geplunder het nie.

“Ek het twee items by die plunderaars gekoop – ’n skootrekenaar en die TV waarop die polisie beslag gelê het. Ek was nie daar toe dit gebeur het nie en my buurman het my daarvan vertel toe ek die aand tuiskom.” Volgens hom was die plunderaars jong werkloses.

“Ek verstaan die desperaatheid waarin ons is. Die regering het van ons behoeftes vergeet. Al wat hulle doen, is om hulself te verryk. Ons kan nie sonder geleenthede en werk oorleef nie.”

Die polisie het ook ’n klopjag uitgevoer op die hut van ’n winkeleienaar wat beweer sy snoepwinkel is nes die winkelsentrum geplunder. Maar Thabo Seama (29) sê hy was ingenome om te sien die plunderaars ry aan die pen.

“Al het baie mense vinnig van goed soos meubels en toestelle ontslae geraak, is dit belangrik dat ons as ’n gemeenskap sien die polisie hou hulle nie blind daarvoor nie.”

Bheki Cele, minister van polisie, het verklaar wetstoepassingsagentskappe sal hard werk om die KwaZulu-Natalse en Gautengse plunderbuit terug te kry.

“Almal sal vir ons die kwitansies vir daardie platskerms en yskaste moet wys,” het hy verlede week gesê.

Meer oor:  Polisie  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.