Die polisie laat geen steen onaangeraak in hul ondersoek na die afbrand van Bloemfontein se stadsaal nie, het brig. Motantsi Makhele, die polisie se Vrystaatse hoof van mediaskakeling en bemarking, Vrydag gesê.
Hy sê die polisie kan nog nie in hierdie stadium terugvoering gee oor hoe die forensiese ondersoek verloop nie.

So het die Bloemfonteinse stadsaal Woensdagaand laat gebrand. Foto: Mlungisi Louw
Makhele sê in ’n mediaverklaring meer polisiebeamptes gaan in die munisipale gebied van die Mangaung-metro ontplooi word, wat ook Botshabelo en Thaba Nchu insluit. Die stadsaal is Woensdagaand aan die brand gesteek, vermoedelik deur stakende lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu).
Volgens Makhele was die polisie Woensdag om 17:00 in ’n konfrontasie met sowat 200 munisipale werkers betrokke wat geweier het om die stadsaal te verlaat nadat hulle daar vergader het.
“Die polisie en motoriste wat daar verbygery het, is met bakstene gegooi. Dit het daartoe gelei dat die polisie skokgranate gebruik het om die groep uitmekaar te jaag. Nadat die werkers die stadsaal verlaat het, het die polisie gesien daar kom rook uit die saal.
“Die brandweer is ontbied en hulle het tot baie laat, tot omstreeks 22:00 toe, gesukkel om die brand te blus.”
Makhele sê in die verklaring die polisie het drie verdagtes vir openbare geweld in hegtenis geneem wat vandag (23 Junie) in die hof verskyn.
’n Klag van brandstigting word teen hulle ondersoek.
Volgens Makhele is vier sake van opsetlike saakbeskadiging ook aangemeld omdat voertuie beskadig is terwyl die werkers die perseel verlaat het.
’n Forensiese ondersoekspan is nog besig op die perseel.
Hy sê genoeg polisielede sal in die stad ontplooi word om sake dop te hou en seker te maak die gemeenskap is veilig.
Genl.maj. Moeketsi Sempe, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê: “Ons wil ’n versoek aan ons gemeenskappe rig om nie regeringseiendom te beskadig nie, wat ook al die geskil tussen hulle en hul werkgewer is.
“Ons ondersoekspan sal geen steen onaangeraak laat om diegene te vervolg wat die brand veroorsaak het en mense moet besef die polisie sal nie enige dade van intimidasie of wetteloosheid duld nie.”