Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Polisie moet plaasaanvalle hanteer, meen Cyril

Ten spyte van pleidooie vanuit plaasgemeenskappe dat pres. Cyril Ramaphosa hom uitspreek teen misdaad op plase, gaan hy dit nié doen nie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, Dinsdag op ’n nuuskonferensie by AfriForum se hoofkantoor in Centurion. Foto: Deaan Vivier

Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, sê hoewel die presidensie bewus is van die pleidooie, het Ramaphosa besluit hy gaan hom nie oor spesifieke soorte misdade uitlaat nie.

Hy meen die polisie moet dit eerder hanteer.

Diko het Dinsdag op navrae gereageer nadat AfriForum vroeër die dag op ’n nuuskonferensie in Centurion sy statistieke vir plaasaanvalle en plaasmoorde van 1 Januarie tot 31 Mei bekend gemaak het. Die burgerregte-organisasie het uitgevaar teen Ramaphosa en sy regering omdat AfriForum meen die kwessie word onder die mat gevee.

Ook Tommy Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike veiligheid, meen Ramaphosa bly stil weens politiekery en daardeur versuim hy sy plig.

“Ek wil aan die president vra wie kos op die tafel van sy kiesers gaan sit as daar nie meer boere is nie,” sê hy.

Dit is nie die eerste keer dat Ramaphosa in die spervuur is oor misdaad op plase nie. ’n Storm het in September verlede jaar op sosiale media in Suid-Afrika losgebars nadat Ramaphosa in New York in ’n televisie-onderhoud met Bloomberg gesê het daar is “geen uitmoor van wit boere” in Suid-Afrika nie.

’n Vrou van Port Elizabeth wat in Maart verlede jaar in ’n plaasaanval geskiet en toe verkrag is, lees voor uit haar verklaring oor dié aanval. Haar identiteit mag ingevolge ’n hofbevel nie bekend gemaak word nie. Foto: Deaan Vivier
Die vrou het tydens die lees van haar verklaring by tye emosioneel geraak. Haar beweerde verkragter is einde verlede jaar in hegtenis geneem en word tans in die hooggeregshof in Port Elizabeth verhoor. Foto: Deaan Vivier

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê AfriForum het besluit om sy statistieke vir vanjaar bekend te maak omdat Mei ’n besonder bloedige maand op plase was. Daar is in dié maand nasionaal 51 plaasaanvalle aangemeld, ’n groot toename teenoor vorige maande.

Volgens Cameron is die data volgens die polisie se definisie oor plaasaanvalle en -moorde opgestel. Die statistieke is volgens hom met die polisie geverifieer.

Dit is vir Cameron veral kommerwekkend dat die getal plaasaanvalle in die Wes-Kaap sedert die begin van die jaar verdubbel het teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. In die jongste plaasmoord in die provinsie is Stefan Smit (62), ’n wynboer van die Louisenhof-wynlandgoed buite Stellenbosch, Sondag doodgeskiet.

Cameron het beweringe dat plaasaanvalle slegs weens sosio-ekonomiese redes gebeur as ’n mite afgemaak, en sê politiek, rassisme en arbeidsgeskille tel ook onder die oorsake.

Volgens hom moet plaasaanvalle, nes die geval is met transitorooftogte, as ’n aparte misdaad gehanteer word wat ’n afsonderlike aanslag benodig.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, Dinsdag op die nuuskonferensie. Agter hom is ’n aanhaling van ’n plaasaanvalslagoffer van Port Elizabeth op ’n skerm. Foto: Deaan Vivier

Esterhuyse sê die geografiese afsondering van boere maak van hulle “maklike teikens” vir misdadigers. Hy sê nog ’n unieke aspek van plaasaanvalle is dat die geweld wat daarmee gepaardgaan in die algemeen wreder is as aanvalle in stedelike gebiede.

Nog ’n misdaadverwante probleem wat hy wil belig, is dat boere die afgelope tyd erg onder veediefstal gebuk gaan. Volgens hom ly boere groot finansiële verliese weens diefstal.

“Ek is in hierdie stadium meer bekommerd oor die finansiële posisie van ons boere as wat ek oor grondonteiening sonder vergoeding is,” sê Esterhuyse.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, het weer eens ontken sy organisasie het ooit gesê “ ’n wit volksmoord” vind in Suid-Afrika plaas. Hy sê die stelling word eerder deur verregses geuiter.

Volgens Roets wil baie meningsvormers bewusmaking oor die ernstige aard en omvang van plaasaanvalle ondermyn deur dit as ’n samesweringsteorie of oordrywing te bestempel.

“Enige redelike mens kan egter sien dat plaasaanvalle ’n groot probleem is,” sê hy.

Slagoffer vertel

Sy en haar kroos is in hul plaashuis vasgebind, toe die gewapende aanvaller haar oudste seun beveel het om haar te verkrag. Nadat die gesin by die aanvaller gepleit het, is sy eerder na die slaapkamer geneem waar die aanvaller haar verkrag het. Haar 13-jarige dogter is van haar klere gestroop en is gedwing om te kyk.

’n Slagoffer van ’n plaasaanval by Port Elizabeth het Dinsdag besonderhede van dié skrikaanjaende ervaring op AfriForum se nuuskonferensie in Centurion gedeel.

Haar identiteit mag ingevolge ’n hofbevel nie bekend gemaak word nie. Haar beweerde verkragter is einde verlede jaar in hegtenis geneem en die saak is tans in die hof, waar sy ook onlangs getuig het.

Die slagoffer en haar kinders het intussen van die plaas weggetrek. Haar man boer steeds daar.

Hy was op ’n jaguitstappie tydens die aanval op 23 Maart 2018. Sy sê haar kinders se voorouers was boere, maar haar kinders wil nie meer in Suid-Afrika boer nie.

“My kinders het grootgeword op ’n plaas waar hulle in die riviere geswem en in die boorde gespeel het. Hulle het vry en vreesloos grootgeword. Min het ons geweet dat ons fyn dopgehou word.”

Sy glo die aanval was beplan omdat die aanvaller presies geweet het waar wat in die huis is.

Die aanvaller het tydens die aanval skote deur ’n deur gevuur. Die vrou is raakgeskiet.

“Ons het gevoel asof ons soos wilde diere gejag word,” het sy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.